Archive for December, 2014

Richtersvelduitreik Oktober 2014

Richtersveld 2014 IMG_1932

Richtersveld 2014 IMG_1917

Beste Uitreikondersteuner

Die Richtersvelduitreikgroep het in twee voertuie op die uitreik vertrek. Die eerste groep het Saterdagoggend vroeg vertrek en die aand gratis by Dirk en Hettie Malan se “Kalahari Water” op Keimoes oornag. (Dankie hiervoor!). Die tweede groep het Sondagoggend vertrek en die lang trek tot in Alexanderbaai in een dag voltooi. Ons is dankbaar dat almal veilig gereis het.

Vandag het hulle Sanddrift besoek waar hulle vanoggend die kleiner kinders met speletjies en poppekas vermaak het. Vanmiddag het die tieners aan die beurt gekom met ‘n meer geestelike fokus. Die plan is om vanaand ‘n geestelike film vir die gemeenskap te vertoon. Môreoggend is Sanddrift se kleintjies weer aan die beurt.

Aangesien die groep in die VEK-pastorie van Carel & Estelle Wiggett op Alexanderbaai bly, is hulle plan om Dinsdagmiddag saam met die VEK-jeug by hulle gemeenskapsentrum, “Die Ark”, uit te reik en môreaand die VEK se biduur by te woon. Woensdag en Donderdag kom Sanddrift DV weer aan die beurt.

Die plan is om Vrydag die Richtersveldpark te besoek en daar te oornag. Pieter van Wyk (wat ons tydens die eerste uitreik in 2009 ontmoet het en daarna vir drie jaar lank ‘n sendeling in Angola was), werk nou in die Park en die groep gaan hom besoek en ook uitreikwerk daar onder die veeposte doen.

Saterdagoggend will hulle vroeg vanuit die Richtersveldpark in die pad val en tot by Kathu ry waar Dirk en Eureka Croucamp van The Ranch Lodge vir hulle gratis verblyf aangebied het.

Die groep is baie dankbaar vir die Here se seën en vir elkeen se volgehoue gebede. Bid asseblief saam met ons vir die werk wat hulle doen en dat die boodskappe op vrugbare grond sal val.

Uitreikgroete

Richtersveld 2014 236

Beste Uitreikouers en ondersteuners

Dit gaan baie goed met die groep en Ian Stanton het ‘n wonderlike program vir hulle uitgewerk. Ariet Louw is “Moederhen” en sorg dat hulle almal lekker en genoeg eet.

Vanmiddag het hulle hulle eerste “regte” Poppekasvertoning by Die Ark op Alexanderbaai en almal was heel opgewonde daaroor. Vanaand woon hulle die VEK se biduur by in Alexanderbaai.

Hiermee ‘n paar foto’s om te wys waar hulle op Sanddrift werksaam is.

Richtersveld 01 Spel

Richtersveld 03 Film

Richtersveld 01 Poppekas

Richtersveld 2014 234

Richtersveld 2014 227

13 Oktober 2014

Beste Uitreikondersteuner

Die groep is veilig tuis. Baie dankie vir jou belangstelling,, ondersteuning en gebede om hierdie uitreik moontlik te maak en veral om veertien jong mense die geleentheid te gee om die Woord uit te dra na afgeleë gemeenskappe.

‘n Spesiale woord van dank aan almal wat die groep gratis verblyf aangebied het – julle ondersteuning was vir ons van onskatbare waarde:

• Dirk en Hettie Malan by Kalahari Water in Keimoes http://www.kalahariwater.co.za/
• Carel & Estelle Wiggett in Alexanderbaai http://alexanderbaai.wix.com/fullgospelab/giving#!__who-we-are
• Dirk en Eureka Croucamp van The Ranch Lodge naby Olifantshoek http://www.theranchchalets.co.za/

Mag ons vra dat jy asseblief die groep nog steeds in jou gebede sal hou, asook die mense van die Richtersveld dat die saad wat gesaai is groot Vrug sal dra.

Dankie by voorbaat.

Uitreikgroete