Archive for the ‘2014 Bible distribution’ Category

Bybels-vier-Kersfees 2014 terugvoer

Bybels-vier-Kersfeesuitreik: Terugvoer: 16 Des 2014

B4K2014 01 Span

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het Saterdagoggend na Botswana vertrek met die kosbare vrag Bybels en klere. Baie dankie vir elkeen wat bygedra het om hierdie uitreik moontlik te maak.

Ons het veral gebid vir die grenskruising, want in die verlede moes ons al invoerbelasting op die tweedehandse klere betaal. Hierdie grensdeurgang was egter probleemvry.

Teen skemer Saterdagmiddag het hulle besluit om eerder in Kang te oornag as om in die donker deur te ry na Ghanzi. Dankie Johan Marneweck van Kang Ultra Stop vir die gratis verblyf wat jy vir die groep gegee het. Ons is baie dankbaar vir elke keer wat julle ons nog op hierdie wyse bederf het.

Sondagaand het hulle Ghanzi-gemeente se Kerssangdiens bygewoon en ook die nuwe predikant, Ds Louw, ontmoet. Hulle het in die kerksaal (wat vir uitreikgroepe ingerig is) oornag. Dit reën sedert Sondag en dit het die pakwerk Maandagoggend vertraag en hulle het eers 12:00 na Nxau-Nxau vertrek.

Maandagaand baie laat het hulle by Gladys, die sendingwerker, in Nxau-Nxau aangekom. Omdat dit só nat was, het hulle nie tent kon opslaan nie. Twee manne het gekies om in die motor te slaap en die ander drie spanlede het in Gladys se huis geslaap. Dinsdag was die plan om saam met Gladys klere vir die armstes uit te deel, mense in die dorpie te besoek en die aand die Jesus-film te vertoon.

Ons dien ‘n groot God wat in alle opsigte voorsien. Dankie vir jou volgehoue gebede.

B4K2014 07 16 Bybels per boks = 11 kgB4K2014 02 Alby Gail Eric

Bybels-vier-Kersfeesuitreik: Terugvoer: 18 Des 2014

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het ‘n besige week gehad. Maandagoggend het hulle die meer as 400 Bybels en klere mooi verdeel sodat elke Sendeling (by wie hulle nie kan uitkom nie) se gedeelte in Ghanzi gereed sal wees vir hulle om af te haal. Maandagaand het hulle baie laat op Nxau-Nxau aangekom ná ‘n byna agt-uur lange rit, waarvan drie uur se ry in die reën en in die donker was.

Dinsdagaand het hulle by ‘n “village”, Jobo, met die Jesus-film uitgereik. Die hele dorpie het die uitreik bygewoon – al 23 mense. Dit was ‘n geseënde tyd vir almal.

Die dae is bloedig warm en gister het die temperatuur by die 40º gaan draai. Gelukkig staan hulle kampplek onder ‘n afdak wat ‘n paar jaar gelede deur ‘n Kaapse uitreikgroep gebou is.

Woensdagaand het hulle met die Jesus-film na die Humbukushu-Boesmans in die !Xabattsha village uitgereik. Een van Gladys, (die sendingwerker van Nxau-Nxau), se dameskollegas, Maani, het hulle die pad daarheen gewys. Mac sê dit was ‘n nogal ‘n nagmerrie, draai-draai, diksand, enkelpad wat byna toegegroei is met bosse. Maani het ook as tolk opgetree en op daardie manier kon die Humbukushu die film in hulle eie taal hoor. Daar was ongeveer 50 mense by die geleentheid.

Die groep het eers teen middernag weer by die kampplek aangekom. Moeg, maar dankbaar dat hulle in !Xabattsha kon bedien en veilig kon terugreis. Die plan is om vanaand (Donderdagaand) by die Hoofman se nabygeleë veepos uit te reik. Die Hoofman is die uitreikgroep baie goed gesind en ondersteun die werk wat Gladys doen.

Vanoggend het sendeling Willie Booyse van Seronga gebel om te laat weet dat daar groot reën vanaf Vrydag vir daardie deel voorspel word. In die lig van die slegte grondpad wat hulle vanaf Nxau-Nxau na Gumare moet ry, het hulle besluit om al Vrydagoggend op te pak en na Ghanzi te vertrek. Mac sê dit het hulle meer as drie ure geneem om die 140 km met die afkomslag te ry en dan het hulle nog 370 km se ry vanaf Gumare na Ghanzi.

Mag ons vra dat jy asseblief saam met ons sal bid vir die mense van Nxau-Nxau, Jobo en !Xabattsha sodat hulle werklik die Here se stem sal hoor en die Boodskap sal verstaan. Ons bid ook vir seën vir Gladys en op haar bediening. Sy doen wonderlike werk onder die mense. Laastens vra ons dat jy asseblief die groep te terugreis ook in jou gebede sal voorhou.

Naskrif: Gladys se droom is vir ‘n naaimasjien. Die handwerk of voetwerksoort – nie elektrisiteit nie. Sy is nogal handvaardig en voel dat sy ook deur naaldwerk haar gemeenskap beter kan dien.

‘n Tipiese Botswana pad en Jesus-film-uitreik…

B4K2014 03 Botswana paaieB4K2014 04 Jesus-filmuitreik