Archive for the ‘2015 Bible distribution’ Category

Bybels-vier-Kersfees: Des 2015

21 Des 2015

 

Die Bybels-vier-Kersfeesuitreikgroep het Saterdagaand ‘n baie geseënde uitreik by Tsodilo Hills gehad en by die sewentig Hambukushu Boesmans kon in hulle eie taal die Jesus-film beleef. Mac staan in dankbaarheid, want hy sê hy weet nie waar, in die middel van “niks”, al die mense vandaan gekom het nie. Daar was groot vreugde in menige harte.

 

Die groep is vandag oppad huistoe vanaf Kang en ons wil veral vir Johan Marnewick van Kang Ultra Stop baie, baie dankie sê dat hy hulle (soos talle groepe vantevore) bederf het met gratis verblyf in die lodge. Dis mos makliker om die pad huistoe aan te pak na ‘n goeie bed en bad…

 

Ons bid saam vir die groep se veilige terugreis, dat elke Bybel ‘n seën vir die ontvanger daarvan sal wees en veral vir die sendelinge in Botswana (en sendelinge in ander lande) wat kosbare werk doen.

 

Alle eer aan die Here vir die geleentheid wat ons gehad het om vir Hom te werk. ‘n Opregte dankie aan elke uitreikondersteuner wat deur donasies en gebede hierdie uitreik moontlik gemaak het.

 

Hiermee ons spesiale Kerswense vir jou.

 

God gee vir jou:

Die lig in Kersfees – dit is die geloof.

Die warmte van Kersfees – dit is die liefde.

Die helderheid van Kersfees – dit is reinheid.

Die regverdigheid van Kersfees – dit is Sy geregtigheid.

Die geloof in Kersfees – dit is die waarheid.

Ja, Hy gee vir jou álles van Kersfees – en dit is Christus.

 

-Wilda English-

Bybel by die grens

 

18 Des 2015

Die afgelope twee dae het die groep weer besef dat ‘n mens se planne nie altyd uitwerk nie. Pas nadat ons Donderdag laat weet het hulle vertrek na Shakawe, het Mac ‘n gebedsversoek vir Drikus se gesondheid deurgestuur. Drikus kon nie bestuur of vervoer word nie en die groep het die dag in Seronga gebly. Laat gistermiddag bel Drikus self om  dankie te sê vir die gebede en te laat weet hy voel goed genoeg om Vrydag te ry. Ongelukkig het hy vanoggend weer sleg gevoel en het hulle later as beplan uit Seronga vertrek.

 

Dis ongeveer 100 km vanaf Seronga na die ferry en ‘n mens ry omtrent 2 uur daaraan. Knap na twaalf was hulle by die ferry, maar daar was baie verkeer. Toe dit hulle beurt is, gaan Drikus eerste met sy voertuig of die ferry, want daar is ‘n vragmotor saam met hom, wat beteken Mac kan nie ook met sy voertuig en die sleepwa op die ferry pas nie. Die vragmotor was redelik breed en dié het toe in die middel van die ferry parkeer. Aan die oorkanste oewer breek die vragmotor toe met die afryslag. Die voorwiele is aan land en die agterwiele nog op die ferry. Meer as twee uur later laat weet Mac die ferry is weer aan die gang en hulle is nou volgende in die ry.

 

Die groep het na vyfuur vanmiddag by Jerry & Magda Minny op Shakawe aangekom waar hulle die oorblywende Bybels afgelaai het en vanaand slaap hulle by Willemien le Roux (‘n ware Boesmankenner) wat naby Krokovango Crocodile Farm woon. Hulle beplan DV om môreaand by Tsodilo Hills uit te reik met die Jesus-film in Hambukushu.

 

Ons sê baie dankie aan Reece Terrell van MegaVoice wat vir ons die vorige terugvoerinligting in ‘n video verwerk het. Gaan geniet die beeld by die onderstaande skakel en voel vry om dit met vriende te deel.

 

Youtube link of outreach: https://youtu.be/wEG2Nu6V7_8

 

Ons bid vir elkeen van die groep en veral vir Drikus se gesondheid. Mag elke Bybel ook in hierdie Kersfees die boodskap van Christus vir die mense van Botswana bring.

Vroegoggend op die Okavango_Seronga

 

 

17 Des 2015

 

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het ‘n wonderlike tyd saam met Willie Booyse en Freddie de Waal van Delta Cross Ministries deurgebring op die oewer van die Okavango-Delta in Seronga. Hulle het gaan kyk hoe lyk die kerkie en ‘n paar foto’s geneem sodat ons ook kan “sien” hoe lyk dit waar die kosbare vrag Bybels heen gaan en gereeld vir hulle werk daar kan bid.

 

Hulle het ook die groep van twaalf Amerikaanse jongdames (World Race Team) wat vir Desember by Delta Cross Ministries werksaam is ontmoet en Johan Grobler van MegaVoice kon vir hulle demonstreer hoe die oudio-Bybel werk en verduidelik hoe dit die sendelinge se boodskap ondersteun in ‘n land waar daar nog heelwat ongeletterdheid is.

 

Vandag vertrek die groep DV na Shakawe waar hulle Jerry Minny se Bybels sal oorhandig en na Tsodilo Hills (waar hulle toe nie oppad aangedoen het nie) om die Jesus-film te vertoon. Ons bid dat dit waarlik ‘n geseënde geleentheid vir die Hambukushu-gemeenskap sal wees wat die film in hulle eie taal sal hoor.

 

Nogmaals dankie vir elkeen se ondersteuning wat dit vir die groep moontlik gemaak het om daarheen te gaan en die Bybels uit te deel. Bid asseblief saam vir die groep se veilige reis verder.

Johan & Amerikaners IMG-20151217-WA0005MacJohanWillieIMG-20151217-WA0007SerongaKerkIMG-20151217-WA0000Willie MacIMG-20151217-WA0002Joseph & EstherIMG-20151217-WA0008

 

 

16 Des 2015

 

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het oppad Ds Gawi Joubert se Bybels vir hom afgegee. Ghanzi se gemeente het weer hulle kerksaal beskikbaar gestel vir die uitreikgroep se oorslaap en Ds Albertus het by hulle kom oogwys.

 

Net buite Ghanzi het hulle Bybels afgelewer by D’Kar se Boesmangemeenskap waar hulle heerlik met Hessel gekuier het. Langs pad het hulle ook by Leon Zeilinga van Love the World Missions oorgeslaap en Dinsdagmiddag het hulle in Seronga aangekom waar Willie Booyse van Delta Cross Ministries en Freddie hulle Bybels ontvang het.

 

Die groep laat weet dat dit baie goed met hulle gaan. Dankie dat jou gebede dit vir hulle moontlik maak om hierdie taak uit te voer. Alle eer aan God wat bereid is om mense te gebruik om die Woord te versprei.

 

Ons bid die groep seën toe op hulle reis verder.

 

Jerry Shakawe by gemeentelede

 

13 Des 2015

 

Danksy jou bydrae, hetsy deur gebed, finansiële ondersteuning, skenking of bemoediging, is die Bybels-vier-Kersfees (B4K) uitreik in volle swang. Die groep het Saterdag na Botswana vertrek, hulle het veilig gereis en ‘n probleemvrye grensoorgang gehad. Dankie vir elkeen wat saam met ons hiervoor gebid het. Gisteraand het hulle in Lobatse by Len van Onselen van Word to Africa Botswana oornag. Sondag pak hulle die pad via Kang na Ghanzi aan en van daar tot by Seronga op die Okavango-Delta. Langs pad sal hulle DV aandoen by:

  • Ds Gawi en Dina Joubert op Xanagas.
  • Leon en Annatjie Zeilinga van Love the World Missions op Sepupa.
  • Jerry en Magda Minny van Shakawe.
  • Willie en Estelle Booyse van Delta Cross Ministries.

 

Ons bid vir groot seën op die werk wat hierdie sendelinge in Botswana doen asook dat elke Bybel, CD en oudio-Bybel by die regte persoon sal uitkom.

 

FB_IMG_1449636778509FB_IMG_1449636784243

IMG_0014IMG-20151212-WA0006