Archive for the ‘Missionary news’ Category

Vervoerkrisis .. alweer

Vriende, Pelle, Preerkante en ander:

Soos jy kan sien in Willie se skrywe – die LandRammel het hom nou deeglik in die steek gelaat.
Ek sou bitter graag vir Willie n nuwe ryding besorg om die Evangelie daar anderkant die Okavango uit te brei .. maar op die korttermyn is die nood om die LandRammel aan die gang te kry.
Ek en Willie het saamgepraat – en is in ooreenstemming dat n ingevoerde enjin uit Japan die beste oplossing is vir korttermyn [korttermyn is so 2 jaar]
Waarna ons vertrou om n nuut of amper nuut voertuig vir Delta Cross Ministries te kan besorg.
MET jou hulp, want ons sal moet insamel dat dit … klap
Teiken een is R20,000. om die enjin vervang te kry.
Dankie dat jy saam is in die span.
Mac

WILLIE SKRYF:
Groete in JESUS!

Ons is veilig tuis nadat ons die tweeling, Arista en Karlien, in Kathu
agter gelos het, waar hul as Apteek Assistent begin werk het. Dit was
nie maklik nie en die emosies wil wil oorneem, maar ons weet dat hulle
veilig is in die HERE se hande en dan is hulle tussen wonderlike
vriende van ons, wat help om ‘n ogie te hou. Die terug kom het ook nie
so goed afgeloop nie, ons Land Rover se engine het op Ghantsi opgepak
en ons moes dit daar by vriende los. Prys die HERE dat tussen ons
Ghantsi en Shakawe vriende is daar planne gemaak en ons is veilig
tuis. Die pad is natuurlik ‘n nagmerrie, want dit reen baie hier in
die Delta. Bid saam met ons dat daar ook vir die probleem met ons
Landy ‘n uitkoms sal wees.

Ons sien uit na die nuwejaar en al sy uitdagings en bid dat die HERE
ons so sal gebruik dat ons in baie mense se lewens ‘n verskil sal
maak.

Mag julle ‘n wonderlike en voorspoedige nuwejaar beleef en mag jul
getroue getuienisse wees vir JESUS in 2014.

Shalom!
Willie, Estelle en Simone.

Cornelius Bediening op Wegdraai

3 Desember 2013
Liewe Vriende

Julle sal onthou dat ons so maand of twee gelede vreeslik in die nood was oor waar ons ’n woonplek op hierdie aarde sal kry. Ons het paniekerig geraak en hierdie kant toe en daardie kant toe gewik en geweeg en ons wou nie by God se plan inval nie, eintlik kon ons dit net nie sien nie en het Hy nodig gehad om ons te dwing om te doen wat hy beplan het.

En nou bly ons hier op Wegdraai vir wie die Here sê: “Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou ’n kind van My maak. Noem My Vader en moet nooit weer van My WEGDRAAI nie.” Jer. 3:19.

Waar ons bly is baie soos die paradys. Verlede Maandag nadat ons ’n reënstorm hier gehad het en die son skielik weer skyn neem ek ’n foto en waarlik dit lyk soos die paradys. Hier is water. Ons is tussen die rivier en die kanaal. Hier is vrugbare grond. Hier is alles, tot ’n klein watervalletjie ook. En soos in die ware paradys is hier tot slange ook. Ons het verlede naweek drie pofadders hier gekry en ongelukkig moes ons hulle doodmaak, want ons het nie geweet wat anders om te doen nie.

Een van die slange ons een hond, Dora, gepik. Onder die keel, maar ons het dit nie dadelik geweet nie, eers later die Saterdagmiddag sien Bernice die swelsel onder haar keel. Sondagmiddag lê Dora toe tussen die plante, haar neus bloei, sy sukkel om asem te haal en sy begin stuiptrekkings kry. Aangesien Simoné vir Dora aangeneem het as haar hond dink ek om haar voor te berei en ek sê vir haar dat Dora sal sterf.

Natuurlik bars sy in trane uit en is baie hartseer en sy tel hoeveel van haar troeteldiertjies is al dood en toe huil sy sommer oor hulle almal. Haar ma probeer troos en Oupa probeer troos maar sy huil net aanmekaar. In ’n stadium sê Oupa toe: “Maar jy weet dat jy kan bid nè.” En dit is wat Simoné toe gaan doen. Ek sien haar nou nog. Sy gaan uit en sowaar Dora staan op en slinger-loop na haar toe en wil aan haar lek. Ek staan in die huis en afloer. Simoné wil nie nou gelek wees nie, so sy klim op die tuintafel, op haar knieë en vou haar handjies. Wat sy gepraat het, kon ons mos nie afloer nie, maar dit was ’n ernstige gesprek.

Wena dink toe aan Kremetart. Dit is mos goed om so mespuntjie daarvan te gee vir iemand wie se neus bloei. Sy gee toe vir Dora sommer ’n teelepel vol in. En ja Dora het oorleef. Sy is al weer stout, krap die hele visdammetjie om en spring teen alles op. Toe ek Dinsdag of so vir Simoné sê sy moet onthou om dankie te sê ook, sê sy: “Ek het al lankal Oupa.”

Wena en Frans het nou eers die jaar in die gevangenis afgesluit. Al hulle studente het sertifikate gekry. Al die skole se sertifikate is uitgedeel. Een skool het vir ons ook ’n sertifikaat gegee om dankie te sê vir wat ons vir die skool beteken op geestelike gebied. ’n Mens doen nie die werk om vereer te word nie en tog is dit goed om te weet dit word waardeer, want veral Wena het baie ure ingesit.

Ons het ook nog ’n spanlid bygekry. Gert Meyer, ’n jong man daar uit Kaapstad het by ons aangesluit. Ons glo Gert sal ’n waardevolle bydrae kan lewer veral onder die jongmense. Jongmense luister graagter na ’n ander jongmens.
Wena het ’n paar sessies van beradingsopleiding saam met Wanda bygewoon op Boegoeberg en dit het ook vir ons deure oopgemaak daar. Ons is gevra om in die vakansie te gaan help met Kinderbediening wat reeds daar aan die gang is.
Ons het ook Jesusfilm uitreike gedoen en elke keer kry ons versoeke om na ’n ander gebied te gaan om dit ook daar te doen.

Ekself het ’n VIGS-pasiënt besoek en bietjie beraad en ons het ook met ’n Sondagmiddag Bybelstudiegroep begin by Wegdraai woonbuurt. Die eerste aand was net die huismense daar, die tweede aand net die vrou en haar kinders, die derde aand was daar drie paartjies en ’n klompie kinders. Ons glo dit sal uitbrei en sterk word.
Capespan het my ook gevra om M.I.V. en Vigsopleiding te doen vir hulle plase in die Kakamas omgewing. Ek was toe eendag daar, as waarnemer, maar dit is so hartseer. Daar was ook ’n ander NGO wat ‘praatjies’ gelewer het en toetse gedoen het, maar al wat hulle praat is Kondome. Elke keer wat hulle demonstreer, op ’n stuk hout, hoe die kondoom aangesit moet word, kon ek sien hoe die mans seksueel opgewerk raak.

Ek praat toe buite met ’n groepie mans en hulle vertel vir my dat hulle vyf mans by een vrou verkeer, sonder kondome. Toe ek ook ’n geleentheid kry om te praat en die waarheid vir hulle vertel vra ek toe sommer die groep of dit so werk dat vyf mans by een groep slaap en hulle sê ja, dit moet so wees want daar is te min vrouens. (Die mense is tydelike arbeiders wat van Kuruman en Vryburg aangery word).

Of Capespan my sal gebruik weet ek nou nie, want ek weier om praatjies te gee oor kondome. Ek verkies om volledige opleiding te gee. Ek glo vas dat as mens nie by Jesus uitkom en die Bybelse riglyne volg nie is daar nie hoop nie en dit sal ek bly verkondig.

Ek was nogal ontsteld toe ek daarvandaan terugkom. Dan is dit ook so dat die mense daar uit die stad kom, hierheen vlieg en glad nie die afstande ken wat ons hier moet aflê nie. Ek het die oggend vieruur opgestaan en was die aand tienuur eers weer tuis. Toe ons jonger was, het ons dit maklik gedoen, maar nou is dit nie meer so maklik nie. Gelukkig het Wena vir my in Upington gewag en saam met my teruggekom daarvandaan.

Liewe Vriende, aan die einde van hierdie jaar wil ons julle net almal bedank dat julle deur die jaar by ons was, ons nuusbriewe gelees het en vir ons gebid het. Ons sê ook dankie vir Finansies wat ons in staat gestel het om die werk van die Here te doen. Ons voel soms so onwaardig dat ons so geseën word terwyl ons maar net nietige mense is, maar ook saam met U kinders van die Allerhoogste God en Vader van ons almal. Ons bid die Liefde van God toe oor U een en elkeen in ons Here Jesus Christus, ons Here.

Baie Liefde

Die de Waals van Cornelius Bediening.

Cornelius Bediening: Upington

Brief 1:
Liewe Vriende

Ons sit met n probleem waarvoor ons voorbidding vra.

Die huis waarin ons bly is verkoop en ons moet einde September uit die huis wees. Met die dat hier oral in die omgewing Sonkragstasies gebou word het huurhuise onbekombaar en onbetaalbaar duur geword. Ons weet egter dat ons Hemel Vader sal voorsien, maar ek moet erken dat ons op die oomblik in n ‘flat spin’ is. Menslik is daar geen oplossing nie.

Ons weet ook nie of Vader wil hê dat ons op n ander plek as Upington moet gaan werk nie, en as ons moet: Waarheen? Ons kry nie duidelike antwoorde nie, miskien omdat ons nie luister nie, of nie in die gemoed is om te hoor nie.

Ons versoek: Sal julle asseblief saam met ons bid, ons wil net weet waarheen. En as Vader met julle praat sal julle dit vir ons deurgee asseblief.

Al wat ons hoor is dat ons moet rustig wees, Hy sal sorg. Dit glo ons met ons hele hart. Maar dit is moeilik om rustig te wees. Ons kyk maar na die golwe om ons.

Dankie dat ons kon vra.

die de Waals

Brief 2:
30 Augustus 2013
Liewe Vriende
Ja, die huis waarin ons bly is nou verkoop en ons moet einde September uit wees. Hoewel ons weet Vader sal voorsien bly dit die een ding in ons gedagtes. Dan lees ek gister van Abram, voor hy nog Abraham geword het, wat ook moes trek sonder dat hy geweet het waarheen. Dit het hy in geloof gedoen volgens Hebreërs 11. Hy het weggetrek sonder dat hy geweet het waar hy sou uitkom. Ek wens ek het Abram se geloof gehad! Ons is bereid om weg te trek maar ek wil graag weet waarheen. Ons dink aan baie moontlikhede. Ons kan ’n huis kry naby Groblershoop, maar ons weet nie of dit is waarheen ons moet gaan nie. Is dit waar God ons wil hê?
Verder is hier ’n huis beskikbaar by ’n kerk, die pastorie wat nie gebruik word nie. Ongelukkig het die kerkraad alreeds besluit hulle gaan nie die huis verhuur nie. Die besluit kan natuurlik omgekeer word, maar die aanbeveling en besluit moet mos eers deur die regte kanale gaan. Ons glo ook dat as Vader wil hê dat ons daar moet gaan woon sal hy dit alles betyds laat gebeur.
En tog WEET ons uit vorige ondervinding dat al die gewroeg so onnodig is.
In die tussentyd is ons darem besig. Die kinders vertel in hulle eie nuusbriewe van alles. Ons was ook nog by die skole besig om te besoek en moed in te praat. Het ook ’n skool opening waargeneem, is in en uit die tronk en al daardie lekker dinge.
Ek, Neels, het nou ook weer ’n konsultasiewerk gekry, net vir 15 dae, maar dit kom net op die regte tyd. Ons sal maar koste hê met die trekkery en ons bakkie se ratkas moes ook vervang word, kon gelukkig ’n goeie tweedehandse ratkas in die hande kry. Vader voorsien altyd op die regte tyd.
So saam met die trekkery beplan ons ook om al die boekies by die skole ter kry, ± 12 000 van hulle, wat nagesien moet word, bid asseblief ook vir ons en spesifiek vir Wena wie die groot verantwoordelikheid daarvoor dra.
Ons het nou nie lang stories die maand nie. Ek skryf ook maar vinnig want ek weet julle is almal baie besig en sal vinnig lees.
Mag ons darem net weer dankie sê vir al julle liefde en omgee, vir elke gebed, SMS, e-pos en finansiële bystand. Ons waardeer julle waarlik en so in ons swakheid probeer ons steeds om die werk te doen wat ons Hemelvader aan ons opgedra het met elkeen van julle as vennoot.
Liefde groete
Die de Waals van Cornelius Bediening.

Brief 3:
Liewe Vriende
Ek wil maar net laat weet dat ons Hemelvader in my afwesigheid, ek werk weer tussen die NGO’s hierdie maand, vir ons ’n huurhuis voorsien het. Ons dank Hom met ons hele hart, maar ook vir elkeen van julle wat saam met ons gebid het en wat ons moed ingepraat het. Wena het gaan kyk en die huis beskryf en dit sal goed by ons behoeftes pas.
Die huurgeld is ’n bietjie hoog, dink ons nou maar, maar ons weet HY sal die ook voorsien.
Ekself sal eers volgende week huis toe gaan, so teen Woensdag en dan Donderdag dadelik weer Kalahari toe vertrek om die boekies by die skole aldaar te versamel, Frans sal seker saam met my gaan. Die volgende week sal ons hoofsaaklik pak en dan teen die 20ste op uitreik vertrek. Frans en Bernice gaan Pella toe en ek en Wena saam met die Vrystaters na Onseepkans. Die beplanning is dat ons dan teen die laaste naweek van die maand sal tuiskom en oortrek na die ander huis.
Intussen moet Wena en die res van ons span nog die boekies by die Upington skole versamel. Susan en Bernice is hard besig om voor te berei vir hulle eksamens aan die einde van die jaar. So dit gaan maar bietjie deurmekaar by die Corneliusse. Hou ons dus asseblief in u gebede.
Liefdegroete
Almal by Cornelius Bediening

Blye versekering .. ek weet Jesus LEEF

Jy hoef maar net Neels se Nuusbrief vir Mei te lees om te weet waar die opskrif vandaan kom:
2 Junie 2013

Liewe Vriende
’n Mens hoor deesdae so baie van verhoudings bou met mense sodat hulle die evangelie kan ontvang. Daar is seker waarheid in. Persoonlik voel ek dit is belangriker dat mense ’n verhouding het met ons Here Jesus Christus en met God ons Vader, deur die Heilige Gees. Dit voel my as ek my verhouding met mense vooropstel dan leer ek die mense om na my te kyk en ek is werklik niks om te sien nie. Ek wil liewer dat hulle na Jesus kyk, daarom sal ons ten spyte daarvan dat ons gekritiseer word uit seker kringe voortgaan om Jesus en Sy liefde te verkondig.

Mei maand was wonderlik, ons was besig. Susan is op die oomblik besig om eksamen te skryf en Frans en Bernice het vir die tyd al haar take oorgeneem sodat sy volle aandag kan gee.

Twee groot dinge het gebeur. Ek het die M.I.V. en Vigs kursus aangebied by Karsten Boerdery vir 55 van hulle leiers wat dan teruggaan na hulle plase waar hulle ander sal help en die Boodskap sal verkondig. Daar was egter so klein probleempie. Baie van die mense is Tswana sprekend en ons handboeke is net in Afrikaans en Engels.

Drie mense van Karsten boerdery het toe ingespring en begin vertaal aan die handleiding. Moeilikheid was net dat ek dit toe moes oortik, eerstens as handboek maar ook in die PowerPoint aanbieding. My tik spoed is nie te stadig nie, maar om in ’n taal te tik wat ’n mens nie magtig is nie, kan nogal moeilik en tydrowend wees. Maar uiteindelik was dit betyds klaar. Foute en weglatings uitgesluit!

Die aanbieding het drie dae beloop en Ds. Johannes Moroeroe het getolk terwyl ek aangebied het. Ons begin die kursus met die basiese feite van M.I.V. en Vigs, maar dan beweeg ons oor na: “Wat is God se oplossing.” Die tweede dag word die evangelie van Jesus Christus verkondig. Die mense ken die Bybel redelik, hulle ken ook kerk, maar hulle probeer nog so hard, net soos die Jode van destyds om goed genoeg te lewe om aanvaarbaar te wees. Baie van hulle soek nog hulle verlossing in die Godsdiens.

Wat ’n wonder was dit toe hulle besef dat die verlossing gratis vir hulle aangebied word, hulle moes dit net vat. Almal wat dit nog nie voorheen gedoen het nie, het Jesus aanvaar as hulle Verlosser en Saligmaker. Hulle is nou ook gereed om hierdie Blye Boodskap uit te dra na hulle medewerkers. ’n Mens wonder soms hoevêr die saad versprei, maar dit is nie in ons hande nie, ons saai maar net die land wat voor ons oop lê.

Op die derde dag kom ons dan ook by vergiffenis uit, om almal te vergewe soos wat God ons vergewe het. Hier het iets snaaks gebeur. Dit het baie stil geraak in die lokaal. Dit was so duidelik dat die Heilige Gees op daardie oggend baie spesiaal in almal se harte gewerk het. Dit het aangehou totdat ons afskeid geneem het van mekaar en ek glo vas dat wat daar gebeur het ’n baie groot invloed sal hê nie net op Karsten boerdery se plase nie, maar ook baie wyer.
Ons dank aan ons Hemelse Vader vir die voorreg om ’n instrument in Sy hande te kon wees. Sonder Hom is ons niks!
Die tweede iets wat gebeur het, was dat ons ’n uitreik-span van Randfontein by ons gehad het vir so bietjie meer as twee weke. Dit was twee Jongmans, twee Jongedames en dan hulle mentors Manie en Leona Reiners. Die seuns het in ons karavaan geslaap, die res van die span het by vriende geslaap, maar dit was nogal ’n bedrywigheid in en om die huis. Nadat hulle weg is, het die erf so leeg gevoel. Vir ’n paar oggende het ek nog met opstaan na die karavaan gekyk om te sien of die seuns al wakker is en dan onthou dat hulle weg is. ’n Mens kan binne ’n paar dae so lief raak vir hulle. As ons na hierdie jongmense kyk dan weet ons daar is nog ’n toekoms vir ons land, in Jesus Christus ons Here.
Wena het geblom met die span hier. Ek het kamtig ’n spyskaart opgestel vir die hele tyd met die doel om koste te bespaar, maar as ek sien dan bak sy eiers of maak iets lekkers want die kinders kan nie net toebroodjies eet nie.
Die span het meestal saam met ons kinders gewerk. Ook saam met Wena tronk toe waar daar ook ’n wonderlike iets plaasgevind het waarvan ons ongelukkig nie kan skryf nie omdat dit redelik vertroulik is.

Die laaste naweek was ons Riemvasmaak toe met die span. Vrydagaand weer die Jesus film vertoon en saam met mense gebid. Hier het dit ook gebeur dat daar ’n persoon was wat ontwrigting wou veroorsaak en dit nogal reggekry het ook. Dit is ’n interessante iets dat die ou vyand altyd iemand stuur om dit te doen en gewoonlik is die persoon onder die invloed van drank. Meer interessant is dat toe ons die ‘probleem’ in Jesus Naam aanspreek en aan Hom erkenning gee as ons Here, die vyand sommer dadelik vlug.

Die mens het nie gevlug nie, net die gees wat ontwrigting gebring het. Die persoon het later op die vloer kom sit, naby my en langs Bernice. Terwyl die film aan die gang was, het sy soort van vooruit die woorde gesê. Ons wat die film nou al so baie vertoon het ken omtrent al die Lukas evangelie uit die kop uit, maar dat die persoon dit ook so kon sê het ons regtig verbaas.

Ag, vriende bid asseblief vir Riemvasmaak se mense. Daar is so baie seer in die mense se harte, hulle maak so moeilik oop. Van die mense wat die aand daar was, het vir die eerste keer oopgemaak al ken ons hulle al jare lank.
Die afgelope week was ek vir ’n vinnige besoek Kalahari toe. Die doel was om die skole te besoek wat met ons program besig is, die Gr. 6 en 7 leerders, soos julle weet uit vorige nuusbriewe, maar ek het darem ook kans gehad om ’n paar huisbesoeke te doen.

Woensdagaand kon ek by Nico en Jana oorslaap op Loubos. Hulle en nog ander vriende daar uit Gauteng/Limpopo se wêreld gaan al jare vir lang tye daarheen waar hulle op gereelde basis met die mense van Loubos, Rietfontein, Mier en Philandersbron bymekaarkom vir Bybelstudie. Hulle bedien ook die kinders. Sal U asseblief vir hulle ook bid. Hulle het my so versterk, sonder dat hulle dit dalk weet, want eintlik het ek Kalahari toe gevlug omdat ek emosioneel en geestelik uitgeput was.

As mens lees van Elia en die Baal priesters, die deel waar hy hulle uitgedaag het met die offers en waar God die wonder vir Elia gedoen het om met vuur uit die hemel die offer te verteer en waar hy die Baal priesters laat doodmaak het, om net die volgende dag woestyn toe te vlug toe Isebel hom dreig met die dood, dan sê ek baie keer: “Ag, Elia, jy het dan net die vorige dag God se mag gesien, waarom vlug jy nou?” Tog ondervind ’n mens dit dat as jy intens bedien het, soos met die kursus waarvan ek hierbo vertel het, waar ons ook die wonder van die teenwoordigheid van die Heilige Gees beleef het en direk daarna Riemvasmaak, dat jy uitgeput en moeg voel.

Dan moet ’n mens eers weer alleen kom om krag te kry, om met ons Vader tyd te spandeer. Waar is ’n beter plek as die woestyn. Al was dit net twee dae en al was mens besig met besoeke, die ure op die lang pad en die afgeknypte tydjie om in ’n pan stil te hou, of tussen die duine, daar waar net jy en Vader is, geen ander geluid nie, gee weer krag om voort te gaan. Ook om saam met medegelowiges te verkeer is ’n wonder wat ons uit ons Vaderhand ontvang.

Ek rig weer die uitnodiging: As jy moeg en gedaan voel, geestelik, emosioneel of liggaamlik, kontak ons ons sal julle Kalahari toe vat of na een of ander stil plek. Dit is deel van ons bediening en mense wat dit wel gedoen het, sal kan getuig dat dit regtig lewensveranderend is. Daar is ook nie danige koste nie, behalwe miskien reiskoste en minimale verblyfkoste. Ons self vra nie ’n fooi nie, dit bly vir ons ’n plesier om in diens van ons Hemelvader te wees.

Wena is steeds besig in die gevangenis met die vroue en kan ook getuig van die wonders wat daar gebeur. Spesifiek een vrou wat al jare daar is en nog altyd baie hard was, het met die huidige kursus skielik oopgemaak en vlam gevat. Sy is nou ’n voorloper om ander te help. Sy sê vir Wena dat sy kan ander help want sy was self daar. Weereens kan ’n mens ook die verandering in haar oë en gesig sien. Sy lewe skielik. Sommer net ter inligting, ek het haar so tien jaar gelede beraad maar het moed opgegee. Sy was al op parool vrygelaat maar is teruggebring omdat sy haar paroolvoorwaardes verbreek het en nou het die wonder gebeur! Ons Hemel Vader gee gelukkig nooit moed op nie.
Ons het weer hierdie maand 54 kospakkies uitgegee. Sommige mense wat voorheen gekry het maar wat ons geoordeel het nie meer regtig dit nodig het nie was baie kwaad. Ander mense kom vra ook pakkies en as ons vra maar hoekom moet hulle kry dan sê hulle omdat die ander kry. Bid asseblief vir ons dat ons vir die regte mense sal gee en die ander steeds met liefde sal behandel. Bernice het ’n mooi benadering, sy sê vir die mense die kos kom van die Here af, so as jy nie gekry het nie moet jy vir Hom vra.

Dankie, dat ek weer hierdie briefie vir U kon skryf, ek weet dat baie van U baie besig is en nie altyd tyd het om al die e-posse te lees nie. Moet tog net nie te besig wees om vir ons te bid nie asseblief. Dankie, ook vir alle ander vorms van ondersteuning wat U aan ons gee. So staan ons almal saam in diens van ons Hemelvader. Ek wens ek kon vir elkeen van U persoonlik sê hoe lief ons U het.
Bo-alles, dankie aan ons Vader wat ons geroep het om juis op hierdie manier vir Hom te werk. Dit is ’n wonderlike voorreg.

Liefde groete

Die de Waals van Cornelius Bediening.

Aanhoudende krisis – Vervoer vir DCM [Seronga]

Terugvoer na maande: Ons het deur OutreachAfrica en twee van die manne hier op 4x4Community Forum so byna R7000 ingesamel gekry vir Willie se voertuig krisisse – En ons het die parte soos bestel vir hom betaal en die balans na hulle bankrekening oorgeplaas.

Alles bly verkeerd loop vir die arme Willie en gister e-pos hy:

Groete Oompie,

Dit gaan goed ten spyte van al die voertuig probleme. Ons was Dinsdag by die Dr in Ghantsi en my hart loop nog mooi. Arista moet egter gaan vir ekg toetse, was nie krag in Ghantsi om dit te doen nie, dr Riaan het ‘n onreelmatige hartritme opgetel en alhoewel hy nie bekommerd is nie, wil hy net doodseker maak dat sy ok is.

Ek wil net almal bedank wat bygedra het om ons te help om die voertuie op die pad te kry, ons waardeer dit baie, want sonder vervoer is ons gestrand en kan ons nie die HERE se werk doen nie, moet hoeka al ‘n draai in Gudigwa gemaak het met die Evangelisasiespan, maar moes dit vir eers uitstel. Weereens baie dankie. Ons hoop om spoedig al die nodige parte te bekom. Ek kon darem vir Steve ‘n bydrae gee vir sy werk, ongelukkig het hy verhuis.

Mag almal geseën word!

Shalom!

en dan volg hy dit op met die probleem soos dit nou nog is :

Goeie naand almal!

Die duiwel wil ons maar net nie uitlos nie en dis veral ons voertuie wat ‘n probleem bly.

Soos julle weet is dit nou al amper 3 maande wat ons sukkel om die probleme met die Land Rover en die Isuzu op te los. Eers het ons parte vir die Land Rover se ratkas probleme bestel wat toe volgens Steve die werktuigkundige nie dit was wat hy bestel het nie en moes ons dit terugstuur, nou sukkel ons om die parte in die hande te kry. Met die Isuzu gaan dit nie veel beter nie, het die tydratte en die “Cylinder head gasket” gekry, net om uit te vind dat die “valves” gebuig is en daar van die “valve guides” vervang moet word. Ongelukkig kan ons nie “valves en valve guides” in die hande kry hier in Botswana of naby gelee dorpe in Namibie nie.

In tussen het Francois Malan ons gehelp met ‘n 4×4, 2.2 Toyota Hilux bakkie, waaroor ons baie dankbaar is, maar het agter gekom dat dit baie olie lek en nou moet ons eers die agterste “crank shaft” olie seel moet vervang, wat nogal ‘n groot werk is, want ons moet die ratkas en die “flywheel” uithaal om by die seel uit te kom en met ons beperkte kennis wil ons nie ‘n kans waag om dit hier in die bos te doen nie. Ons gebruik nog die Toyota, moet net gereeld olie ingooi, 2L op 800KM. Steve het in die tussen tyd verhuis na Katima Mulilo in Namibie toe.

Ons vra dat julle saam met ons oor al die probleme sal bid vir ingryping van BO, sodat ons hierdie probleme ook sal oorkom. Ons besef dis ‘n toets wat ons moet deurgaan, maar kan net met behulp van almal se gebede deurdruk.

Shalom!

Corneliusbediening se aktiwiteite in Februarie 2013

Liewe Vriende

Net maar om te sê ons is steeds in diens van ons Hemelvader, so met ons tekortkominge en al. Ons is nou besig met Bybelstudie uit Johannes en dit val op hoedat Jesus gedurig vir die Jode vertel wie Hy is en tog wil hulle Hom nie glo nie – hulle wil Hom net uit die pad hê. Ons het lank oor daaroor gewonder en gedink wat dit vir ons vandag kan beteken totdat ons insien dat dit vandag nog dieselfde is, ook in ons bediening.

Dit maak nie saak wat jou werke of gesindheid is nie, mense wil jou CV sien. Waar is jy opgelei, jy is dan die timmerman (In my geval – grofsmid) se seun? Waar jy kom aan die soort van wysheid? Wie gee jou die reg om ons te wil leer? Aan watter teologiese skool het jy studeer? Wat is jou dogma?

1Soos Jesus wil ons ook maar net ons Hemelvader se wil doen. O, maar dit is ook nie reg nie: “Stel jy jouself nou aan Jesus gelyk?” Dit is darem net te erg!

Genoeg nou daarvan, kom ons vertel net so kortliks waarmee ons besig was. Ons het toe gedurende Desember twee keer kospakkies kon uitdeel en weer in Januarie. Die beplanning is om komende Vrydag weer Februarie se pakkies uit te deel. Ons het nog fondse vir Maart maand. Aan die einde van die nuusbrief gaan ek anders as gewoonlik vir U ’n bankrekening nommer gee, die rekening word spesiaal net vir die voedingsprojek gebruik. As U voel dat U vir die doel wil bydrae is U welkom.

Verder het ek (Neels) en Frans met die Geestelike sanger Willie Pretorius (Wenspan) al die Kalahari skole besoek. Willie het regtig swaar gekry want dit was ook die warmste week van die jaar gewees. Ons het ook swaar gekry maar ons is darem soort van gewoond aan die hitte. Tog was dit ’n baie geseënde tyd gewees, vir ons, maar ook vir al die kinders wat bereik is. Willie is regtig ’n geseënde van die Here wat kinder bediening aan betref. Maar ek het dopgehou en gesien die onderwysers het net so deelgeneem en was net so geraak deur die eenvoudige boodskap van die evangelie. Vrydag het Susan hom by Raaswater en Leseding se skole gehad.

 

2

Willie by Rietfontein

Die wonder in die Kalahari was dat daar nie sommer bekende sangers daarheen kom nie. Dit is ’n droom waarmee ek al jare rondloop om geestelike sangers daarheen te neem en nou het dit gebeur. Ons het al baie sangers genader maar hulle tariewe was net te hoog. Willie het Sy eie borge gekry en ons hoef net die verblyf, brandstof en kos te voorsien het. Willie het aangedring om die drinkgoed te koop. Ek dink toe hy die hitte voel was hy bang ons koop te min.

Ons het ook weer die negentien skole besoek wat aan die Pro-Regno projek deelneem en almal is weer vuur en vlam om die nuwe jaar voluit met die program te gaan. Net ter inligting van nuwe lesers, dit gaan daaroor dat die Gr.6 leerders elkeen ’n Bybel en Twaalf lesse kry met die basiese evangelie en Gr. 7 leerders kry ’n opvolg kursus ook van twaalf lesse wat die onderwysers met hulle deurwerk. Aan die einde van die jaar kry ons die boekies terug om te merk en kry die kinders wat deelgeneem het sertifikate.

Dit gaan daaroor dat baie kinders nie meer Sondagskool of Kinderkerk bywoon nie en dat hulle geen Christelike opvoeding kry nie. Destyds toe ons in Botswana was, het ’n onderwyser vir my gesê dat hulle al die godsdienste in die skole moet behandel, soos nou ook by ons skole, maar dat hulle baie boeke het oor die Moslem geloof maar geen Bybels het nie. Ons dank ons Vader dat ons vir hierdie negentien skole ’n verskil kan maak. Daar is nog baie skole in die omgewing maar ons kan nie meer hanteer nie. U moet besef dit is reeds 2000 leerders wat beteken ons moet in Oktober maand 24000 boekies nagaan. Wena het verlede Oktober feitlik dag en nag gewerk.

Net voor Kersfees het ons in ’n parkie naby ons huis, regoor Smartie Town ’n Kerssang aand gehou. Daar was baie kinders wat dit bygewoon het, maar nie baie volwassenes nie.

Bernice het grootliks by Susan ingeval en hulle is baie bedrywig met die kinders, maar daarvan sal Susan se nuusbrief meer vertel.

Ons almal sê vir U dankie vir gereelde gebede, oproepe, SMS’e en baie ander maniere van ondersteuning, ook vir genoegsame finansiële steun. Met die dat ons nou dubbel soveel mense in die gesin is was ons maar bekommerd oor finansies, maar deur U het ons Vader genoegsaam voorsien. Daarvoor dank ons Hom, maar ook vir elkeen wat aan Hom gehoorsaam was. Ons waardeer dit regtig.

En nou die bank besonderhede vir die voeding projek. ABSA Kode 632005 Rekening: 9238555464. Rekng. Naam: Cornelius Bediening.

 

Baie groete

Neels, Wena, Susan, Frans, Bernice en Simoné.

Angola boomprojek

Hi julle

So baie dankie vir alle boodskappe. Ek is tans besig om die plaaslike kennis van bome by ons te leer, skryf alles neer. Verder het ek al laas jaar ontdek dat die afrika aartapel wild by ons groei, dink daaraan om dit aan te plant vir gebruik.

Vertrou dit gaan baie goed met julle en dat almal gesond is. Bid vir julle, dat Jesus julle bediening gelooflik sal seën. Geniet julle webblad.

Ek gaan hierdie jaar ‘n tree trail maak op ons basis, het al klaar die bome gemerk, sukkel egter nog net met sommige spesies omdat hulle tot op hede nog nie vrugte of blomme gemaak het nie. Ek het genadiglik ‘n kontak by die Botaniese tuine van Namibië wat kan help met benaming van die boome, maar ek moet alle inligting van die boom hê om dit te vergemaklik.

Verder bly dit ‘n reuse stryd om mense te stop om bome af te kap op ons perseel. Verlede week het ‘n oom ‘n hele stuk van ons veld skoongekap, dis vreeslik om te dink dis alweer 4 jaar se groei wat verlore is in ‘n uur. Weet nie wat om te doen dat die mense stop nie. Ek het al 22 spesies op ons perseel gemerk, net te dink dit het natuurlik terug gekom. Verder begin plant ek ook saailinge van bome wat elders in die land voorkom, miskien word dit nog ‘n botaniese tuin van Angola, nie onmoontlik.

Ek beplan ook om sodra ons terug kom in Mei van Luanda kinders van die JEGA skool op ‘n uitstappie te bring na ons perseel en hulle te leer oor die plaaslike gebruike en name van bome aangesien die kultuur in die stede besig is om uit te sterf en dit gebruik om verhouding te bou met die kinders en te deel oor God se skepping.

Ek het in Januarie positief gevoel om te begin soek vir ‘n uitgewer omdat ek nooit self sal kan bekostig om my boek oor die Richtersveld te druk nie. UMDAUS Press en Briza het belangsteling getoon. Ek voel positief oor Briza. Ek het ‘n manuskrip en die foto’s van die boek klaar vir hulle gestuur nadat hulle aangevra het daarvoor. Bid saam met my dat hulle eerlik en oop sal wees met my en ook dat hulle spoedig sal terugkom, is nou al vir twee weke stil, so ek weet nie of hulle al die manuskrip ontvang het nie, daar was ‘n vertraging met die pos as gevolg van die stakings.

Verder ervaar ek sterk in my hart om klaar te maak met die Tiago se skool, bid saam hiervoor. Ek het gisteraand met oom Wessel gepraat oor my hart om tussen ‘n groep onbereikte mense te gaan woon. Op die stadium as ek voort met dit wil gaan, moet ek eers vir twee maande opleiding in Zambia gaan of vir ses maande op die African trackt waar daar in verskeie lande saam met sendelinge gewerk word, OM se vereistes. Weet nog nie watter een nie, vertrou Jesus om my te wys.

As ek dan klaar die opleiding gedoen het gaan ek kyk of die Here ‘n deur oopmaak in Angola om by die Boesmans te bly, dit sal ‘n reuse en moelike aanpassing wees, maar dit is wat ek graag wil doen. Indien die Here nie ‘n deur oopmaak om dit te doen in Angola gaan ek Namibië toe gaan, ek het klaar ‘n geleentheid om by ‘n sendingbasis daar aan te sluit wat woon tussen ‘n klein gemeenskapie langs die Okovango rivier, hulle is nog in ‘n erge pioniers stadium.

Vertrou saam met my vir leiding van die Heilige Gees hiervoor. Dit gaan ook beteken dat ek my hele finansies self moet dra en dokumentasie. Ons is tans besig hierdie week met die proses om my werkspermit aansoek in te handig wat dan geldig is vir ‘n jaar, bid groot asseblief dat Vader ‘n wonderwerk sal doen rondom dit.

Ons ry die einde van die week Luanda toe. Tanie Joan moet daar wees vir opleiding en Tiago gaan sokker speel. Ek maak die week klaar met Feliciana, dis die meisie wat verlam is, ons doen alles saam met die mond. Ek vertrou ook vir Jesus om te wys hoe verder en watter kuns en Engelse lesse ek met haar moet doen. Bid vir haar, haar pa het teruggekom van die Kongo en ons het vinnig agtergekom hy drink erg en is moontlik aggresief met die kinders.

Baie seën en liefde vir julle.

Pieter

Angola inbraakkrisis

Hi almal, vertrou in Jesus dat dit goed gaan. Hier by ons gaan dit eendag goed en die ander moeilik. Ons as ‘n span gaan vanaand saam die aangesig van die Here soek vir beskerming teen erge onlangse inbrake. Vertrou saam met ons dat Jesus in die lig sal bring wat aangaan. Verder gaan ons op die oomblik volgende week Donderdag Luanda toe tot einde April.

Blessings.

Pieter Van Wyk

outreachafrica

03 DCM ervaar groei

Groete in JESUS!

Alle eer aan die HERE! HY het werklik vir ons deure oopgemaak die
afgelope tyd en daarom wil ek so bietjie daarvan met jul deel.

Gisteraand het ons, ons eerste teenkanting gekry, toe ons Bybelstudie
moes gaan aanbied vir die “Scripture Union” by die skool. Een van die
onderwysers in wie se klaskamer ons gebruik om die lesings aan te
bied, het geweier dat ons die klaskamer kan gebruik. Dis die grootste
klaskamer by die skool en weg van alle geraas af. Bid saam met ons dat
ons die klaskamer weer kan gebruik. Ek het more ‘n vergadering met die
hoof.

Vandag het ons drie dienste gehou, ons normale kerkdiens in ons kerkie
en dan vir die eerste keer het ons ‘n diens in Dungu en ook vir die
skool in die skoolsaal gehou. Ons gaan ook die week reel om in
Samxhoma dienste te begin hou van volgende week af. Dan is ons
Donderdae en ook Saterdae in die oggend by die polisie.

Soos jul sien raak ons lekker besig en tussen deur het ons nog
opleiding en evangelisasie. Bid vir seen oor ons werk en dat die HERE
nog meer daardeur verheerlik sal word.

Shalom!

DCM Kerk Saal

DCM Kerk Boom

DCM Kerk Klaskamer

02 DCM Sendelinge opgelei

Groete in JESUS!

Ons eerste opleidingsessie vir die jaar is agter die rug en weereens
was dit baie suksevol. Ons het weer die voorreg gehad om te beleef wat
se impak die “Building on Firm Foundations” kursus op die lewens van
die studente het. Die meeste van hulle was onder die indruk dat hul
gered is, maar na die kursus het hulle erken dat hulle nog in die
duisternis gelewe het. Mense wat nog nie gered was nie, het tot die
besef gekom dat hulle die waarheid rondom GOD se Woord en SY plan
geleer is en dat hul geen verskonings het om nie hulle lewens vir die
HERE te gee nie. Hierdie is ‘n besonderse kursus wat almal van ons wat
dit gebruik net laat besef dat sonder dit ons sending baie armer sou
gewees het.

Baie dankie aan almal wat bygedra het, op watter manier ookal, dat ons
die kursus kon aanbied.

Volgende week gaan ons Nxau Nxau toe vir 10 dae se Evangelisasie daar,
bid vir die Evangelisasiespan en vir Gladys wat tot die einde April
daar gaan bly om aan te gaan met die werk.
Bid dat ons die nodige fondse sal bekom om ons Bybelskool en
Biblioteek te kan bou.
Bid vir ons Kinderbediening opleiding wat die 11de Maart begin en ook
vir ons voorbereiding vir die 1ste fase van ons teologiese opleiding
wat die 8ste April begin.

Seen!