Cornelius Bediening op Wegdraai
3 Desember 2013
Liewe Vriende
Julle sal onthou dat ons so maand of twee gelede vreeslik in die nood was oor waar ons ’n woonplek op hierdie aarde sal kry. Ons het paniekerig geraak en hierdie kant toe en daardie kant toe gewik en geweeg en ons wou nie by God se plan inval nie, eintlik kon ons dit net nie sien nie en het Hy nodig gehad om ons te dwing om te doen wat hy beplan het.
En nou bly ons hier op Wegdraai vir wie die Here sê: “Ek het gesê: Hoe graag wil Ek jou ’n kind van My maak. Noem My Vader en moet nooit weer van My WEGDRAAI nie.” Jer. 3:19.
Waar ons bly is baie soos die paradys. Verlede Maandag nadat ons ’n reënstorm hier gehad het en die son skielik weer skyn neem ek ’n foto en waarlik dit lyk soos die paradys. Hier is water. Ons is tussen die rivier en die kanaal. Hier is vrugbare grond. Hier is alles, tot ’n klein watervalletjie ook. En soos in die ware paradys is hier tot slange ook. Ons het verlede naweek drie pofadders hier gekry en ongelukkig moes ons hulle doodmaak, want ons het nie geweet wat anders om te doen nie.
Een van die slange ons een hond, Dora, gepik. Onder die keel, maar ons het dit nie dadelik geweet nie, eers later die Saterdagmiddag sien Bernice die swelsel onder haar keel. Sondagmiddag lê Dora toe tussen die plante, haar neus bloei, sy sukkel om asem te haal en sy begin stuiptrekkings kry. Aangesien Simoné vir Dora aangeneem het as haar hond dink ek om haar voor te berei en ek sê vir haar dat Dora sal sterf.
Natuurlik bars sy in trane uit en is baie hartseer en sy tel hoeveel van haar troeteldiertjies is al dood en toe huil sy sommer oor hulle almal. Haar ma probeer troos en Oupa probeer troos maar sy huil net aanmekaar. In ’n stadium sê Oupa toe: “Maar jy weet dat jy kan bid nè.” En dit is wat Simoné toe gaan doen. Ek sien haar nou nog. Sy gaan uit en sowaar Dora staan op en slinger-loop na haar toe en wil aan haar lek. Ek staan in die huis en afloer. Simoné wil nie nou gelek wees nie, so sy klim op die tuintafel, op haar knieë en vou haar handjies. Wat sy gepraat het, kon ons mos nie afloer nie, maar dit was ’n ernstige gesprek.
Wena dink toe aan Kremetart. Dit is mos goed om so mespuntjie daarvan te gee vir iemand wie se neus bloei. Sy gee toe vir Dora sommer ’n teelepel vol in. En ja Dora het oorleef. Sy is al weer stout, krap die hele visdammetjie om en spring teen alles op. Toe ek Dinsdag of so vir Simoné sê sy moet onthou om dankie te sê ook, sê sy: “Ek het al lankal Oupa.”
Wena en Frans het nou eers die jaar in die gevangenis afgesluit. Al hulle studente het sertifikate gekry. Al die skole se sertifikate is uitgedeel. Een skool het vir ons ook ’n sertifikaat gegee om dankie te sê vir wat ons vir die skool beteken op geestelike gebied. ’n Mens doen nie die werk om vereer te word nie en tog is dit goed om te weet dit word waardeer, want veral Wena het baie ure ingesit.
Ons het ook nog ’n spanlid bygekry. Gert Meyer, ’n jong man daar uit Kaapstad het by ons aangesluit. Ons glo Gert sal ’n waardevolle bydrae kan lewer veral onder die jongmense. Jongmense luister graagter na ’n ander jongmens.
Wena het ’n paar sessies van beradingsopleiding saam met Wanda bygewoon op Boegoeberg en dit het ook vir ons deure oopgemaak daar. Ons is gevra om in die vakansie te gaan help met Kinderbediening wat reeds daar aan die gang is.
Ons het ook Jesusfilm uitreike gedoen en elke keer kry ons versoeke om na ’n ander gebied te gaan om dit ook daar te doen.
Ekself het ’n VIGS-pasiënt besoek en bietjie beraad en ons het ook met ’n Sondagmiddag Bybelstudiegroep begin by Wegdraai woonbuurt. Die eerste aand was net die huismense daar, die tweede aand net die vrou en haar kinders, die derde aand was daar drie paartjies en ’n klompie kinders. Ons glo dit sal uitbrei en sterk word.
Capespan het my ook gevra om M.I.V. en Vigsopleiding te doen vir hulle plase in die Kakamas omgewing. Ek was toe eendag daar, as waarnemer, maar dit is so hartseer. Daar was ook ’n ander NGO wat ‘praatjies’ gelewer het en toetse gedoen het, maar al wat hulle praat is Kondome. Elke keer wat hulle demonstreer, op ’n stuk hout, hoe die kondoom aangesit moet word, kon ek sien hoe die mans seksueel opgewerk raak.
Ek praat toe buite met ’n groepie mans en hulle vertel vir my dat hulle vyf mans by een vrou verkeer, sonder kondome. Toe ek ook ’n geleentheid kry om te praat en die waarheid vir hulle vertel vra ek toe sommer die groep of dit so werk dat vyf mans by een groep slaap en hulle sê ja, dit moet so wees want daar is te min vrouens. (Die mense is tydelike arbeiders wat van Kuruman en Vryburg aangery word).
Of Capespan my sal gebruik weet ek nou nie, want ek weier om praatjies te gee oor kondome. Ek verkies om volledige opleiding te gee. Ek glo vas dat as mens nie by Jesus uitkom en die Bybelse riglyne volg nie is daar nie hoop nie en dit sal ek bly verkondig.
Ek was nogal ontsteld toe ek daarvandaan terugkom. Dan is dit ook so dat die mense daar uit die stad kom, hierheen vlieg en glad nie die afstande ken wat ons hier moet aflê nie. Ek het die oggend vieruur opgestaan en was die aand tienuur eers weer tuis. Toe ons jonger was, het ons dit maklik gedoen, maar nou is dit nie meer so maklik nie. Gelukkig het Wena vir my in Upington gewag en saam met my teruggekom daarvandaan.
Liewe Vriende, aan die einde van hierdie jaar wil ons julle net almal bedank dat julle deur die jaar by ons was, ons nuusbriewe gelees het en vir ons gebid het. Ons sê ook dankie vir Finansies wat ons in staat gestel het om die werk van die Here te doen. Ons voel soms so onwaardig dat ons so geseën word terwyl ons maar net nietige mense is, maar ook saam met U kinders van die Allerhoogste God en Vader van ons almal. Ons bid die Liefde van God toe oor U een en elkeen in ons Here Jesus Christus, ons Here.
Baie Liefde
Die de Waals van Cornelius Bediening.