Nuusbrief: Vierde Kwartaal 2014

Ons groet elkeen vanuit n warm Botswana

Leon & Annatjie Zeilinga 01Sepupa 03

Kan jy glo die jaar is verby. Ons kyk terug na 2014 en besef dat dit ‘n moeilike jaar vir baie mense was maar dat die Here ons almal bo alles wonderlik bewaar het. In ons lief en leed het die Here ons elke keer deurgedra. Die jaar was rof. Annetjie was beroof; die gasstoof het in haar gesig ontplof; ons was in ‘n motorongeluk waarin sy ‘n fraktuur in haar nek opgedoen het; haar geliefde Jessie is dood; my ma het 2 ernstige operasies ondergaan en was ook in ‘n motorongeluk; Annetjie se ma was 2 keer in die hospitaal; ons kleinseun het 2 keer opgehou asemhaal en was ook in die hospitaal en my vriend Colin is oorlede.

Die positiewe is egter die belangrikste. My swaer het sy hart vir die Here gegee. Dit, op sigself was ‘n wonderwerk wat net die Here kon doen. Op hierdie stadium besef hy dit nog nie, maar hy het ‘n fenomenale getuienis. Die kerk op Sepopa is voltooi, prys die Here !!! Ons getuig meer hieroor in die volgende nuusbrief. Met die Voorskoolse Speelgroep op Nxamasere gaan dit uitstekend. Die Here het ‘n wonderlike wen-resep vir ‘kleuterskole’ gegee. (nog hieroor later in die brief) Met die bediening oor die algemeen gaan dit regtig goed en die Here seën die werk.

Ons moet maar altyd fokus op die positiewe sodat dit ons gees kan verkwik. Ons glo die nuwe jaar sal ‘n groot seën vir ons almal wees. Al voel dit nie soms so nie, die beste lê nog voor. Ons gaan op strate van goud loop en bo alles, by Jesus wees.

Spr. 17:22 ‘n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ‘n verslae gees laat die gebeente uitdroog.

 

Gered uit die kake van die dood.

Die Here is so goed vir ons gemeente op Sepopa. Een van ons gemeentelede en sy vrou het met hulle bootjie gaan visvang, asook om riete vir hulle huis te sny. Hy getuig dat toe hulle onverwags verby ‘n seekoeikalf vaar, besef hulle dat hulle in groot moeilikheid is. Binne sekondes het die seekoei koei op hulle afgestorm en die boot met haar geweldige kake gebyt en onder die water gedruk. Die slag het die man en sy vrou deur die lug laat trek en naby die papirusse te lande laat kom. In die geskarrel het sy voet in die vissersnette verstengel geraak, maar hy kon homself gelukkig vinnig bevry.

Toe hulle skuiling vind binne die papirusse en riete, moes hulle aanskou hoe die dier hulle boot vernietig. Die boot het redelik vinnig gesink en hulle het vir hulle lewens gevrees. Wonder bo wonder het sy selfoon, wat in ‘n plastiese sakkie toegemaak was, nog gewerk en kon hy sy bure wat ook in ons gemeente is, bel. Hulle het kom help maar die bejaarde paartjie moes omtrent 4 ure in die moeras wag totdat die hulp opgedaag het. Dink net hoe het die muskiete hulle aangeval, om nie eers te praat van die vrees van nog ‘n aanval deur die seekoei of selfs ‘n krokodil nie.

Hierdie insident is weer ‘n bewys van hoe die Here Sy Engele stuur om Sy geliefdes te help.

Ps. 91:11 want Hy sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë.

 

Voeg die daad by die woord

Een oggend vroeg terwyl ek aan die nuusbrief lê en dink het ek besef dat dit die laaste brief van die jaar is. Die Here het my toe daarna in my stiltetyd gelei om die volgende met u te deel.

Ek gaan dus nie in die brief ‘n ‘Memory Lane’ plaas nie want ek wil liewer hierdie gedeelte as ‘n getuienis deurgee.

Ek lees in Jakobus 2 (sien onder) hoe die geloof dood is sonder die werke. Ons goeie werke alleen is min of niks werd nie, maar as ons geloof bysit, kry ons in totaliteit ‘n verskillende som-totaal.

As ons iets vir die Here vra of vir Hom wil doen moet ons soos Abraham iets doen om Hom te behaag. Abraham het geloof bygevoeg. Dit gaan nie soseer oor die daad nie maar oor ons motief. Die Here sien ons hart raak en dit maak die verskil.

Ons kan verskeie voorbeelde in ons bediening noem maar kom ek gee ‘n goeie voorbeeld. Toe die kerkdak op Sepopa opgerig is het n gemeentelid profeties gesê dat die kerk te klein gaan wees en ons het dit onmiddellik ons eie gemaak en die kerkdak aan die een kant vergroot en toe later ook aan die ander kant. Op daardie stadium was ons maar n klein gemeente maar ons het stelselmatig groter geword.

Ons moes ‘n kerkstoor bou om die stoele te stoor, maar ons het geen fondse gehad nie. Die drang om iets te doen was sterk in ons binneste en ons het besef dat ons iets hieromtrent moes doen. Ons kon bousand gratis by die rivier gaan haal en toe dit met die eerste geleentheid ook dan gedoen. Toe ons die eerste vrag as proklamasie op die kerkperseel aflaai het iemand vir ons genoeg geld gegee vir 2 sakkies sement. Nou kan ‘n mens dink, wat kan ek doen met net 2 sakkies sement? Die 2 sakkies het vir ons 44 groot stene gegee. Toe die stene gereed is het ons dit naby die betrokke area gepak en kort daarna het ‘n span ons besoek. Op navraag van die spanleier oor die stene, het ek aan hom verduidelik dat ons ‘n kerkstoor beoog en die Here het dit op sy hart gelê om ons te help om die stoor op te rig. Die kerkstoor sal later die kerkkantoor en Biblioteek word.

Dit gaan nie hier oor my, Annetjie of Dikarabo nie maar oor ‘n sleutel om in geloof iets te bereik. God kan ‘n poging seën, maar nie ‘n niks-poging nie.

 

Lees ook Jakobus 2:14 – 26. Dit was vir ons ‘n ontdekkingsreis.

Jak. 2:20 Maar wil jy weet, o nietige mens, dat die geloof sonder die werke dood is?

:26 Want soos die liggaam sonder gees dood is, so is ook die geloof sonder die werke dood.

 

Kort nuusbrokkies

‘n Kosbare dame van Johannesburg het vroeër die jaar vir Love the World Missions ‘n Face Book blad geskep en ek wil vra dat elkeen wat die nuusbrief ontvang na die blad gaan kyk en dit ‘Like’.Dit sal meebring dat u op hoogte gehou word van gebeure in die bediening.

Ons verstaan dat wanneer ek uit Botswana bel daar ‘n soms vreemde nommer verskyn. Jammer hieroor maar ons het geen beheer daaroor nie. Terwyl ons op die onderwerp is… indien iemand ons skakel gebeur dit dat die telefoon OF ‘n besettoon gee OF die stem sê dat ons nommer nie beskikbaar is, of selfs nie bestaan nie. Skakel net dadelik weer (en weer) en dan kom ‘n mens gewoonlik deur. Die skakeltoon klink soms na ‘n besettoon, maar dit is die regte luitoon. Die SMS’e wat heen en weer gaan, raak gereeld ‘weg.’ Ons kom al geruime tyd agter dat die boodskappe nie altyd hulle bestemming bereik nie. Ek wil tog vra dat indien u nie ‘n antwoord op ‘n SMS kry nie, u tog navraag doen. Nou-die-dag het ‘n belangrike SMS ons nie bereik nie en dit was ‘n groot verleentheid vir ons.

Die kinderbediening op Nxamasere groei mooi. Die onderwysertjie het in ‘n rekordtyd die kleuters geleer om die alfabet in Engels op te sê, en hulle kan tot 10 in Engels tel. Die kinders is egter nog bang vir ons want van hulle het nog nie witmense gesien nie en huil onkeerbaar as ons (veral ek) nader kom. Weet nie of ek soos iets uit ‘n nagmerrie vir hulle lyk nie, maar nou-ja.

Die Here het Annetjie eendag op so ‘n mooi wyse getroos toe sy weer oor ou Jessietjie treur. Sy het so ‘n bietjie op die basis rondgestap om so ‘n bietjie met Jesus te wees. Soos in die verhaal van Abraham en Isak het die Here iets wonderliks gedoen. Sy het ‘n duifie gesien wat verstrengel was in ‘n bos, en natuurlik was haar eerste reaksie om hom uit te haal. Dis eintlik snaaks want die duiwe ken die bosse en struike en raak nie sommer verstrengel nie… Nietemin, sy het die duifie vasgehou en met hom begin gesels. Elke keer as sy iets vir hom sê het die diertjie gekoer, so asof hy terug antwoord. Dit het seker vir 15 min so aangehou. Uiteindelik het sy besef dat sy hom moet vrylaat en haar hand oopgemaak sodat hy kon wegvlieg. Hy het egter nie. So het seker nog ‘n minuut of twee verbygaan en hy het toe weggevlieg. Daarna het hy ‘n paar keer weer teruggekom en sy kon hom op ‘n afstand voer. So kosbaar !!!

‘n Span het onlangs na ons toe opgevlieg en die ligte vliegtuig het naby ons neergestort. Ons stuur binnekort ‘n spesiale nuusbrief uit waarin ons van die wonderwerk vertel.

 

Iets moois

A stranger is just a friend you do not know – Jim Reeves.

We should pursue hospitality. It’s a remarkable opportunity to display the love of God and love people in a tangible, realistic and honest way. Welcome strangers and make friends.

Heb 13:2 Don’t forget to show hospitality to strangers, for in doing so, some have entertained angels without knowing it. (HNV)

Al ons liefde

Leon en Annetjie

 

 

IMG_0838 B4C 2012_0834a

 

Liewe Mac

Eerstens wil ek baie dankie sê vir die Chinese Bybels wat julle vir ons geskenk het. Dit het ons weereens laat besef dat die mensies wat normaalweg vermy word ook kosbaar is.

Een van die Chinese dames wou aanvanklik niks weet van die Bybel nie maar het naderhand mooi belangstelling getoon. Ek het die gesprek begin deur haar te vra dat sy my die boeke Johannes, Romeine en Galasiers in die Chinese Bybel moet wys.  Ek moes letterlik  al die inligting uit haar trek. Sy het eers voorgegee dat sy nie verstaan nie, maar soos ons gesels het, het sy gelydelik haar hart oopgemaak.  So het die een  na die ander Bybel sy weg na ‘n kosbare siel gevind.

Dit is nogal moeilik om die mensies te bereik maak die Here help ons. Al die Bybels is in goeie hande.

Nogmaals baie dankie.

Leon en Annetjie
Love the World Ministries