Archive for the ‘Bible distribution’ Category

Bybels-vier-Kersfees: Des 2015

21 Des 2015

 

Die Bybels-vier-Kersfeesuitreikgroep het Saterdagaand ‘n baie geseënde uitreik by Tsodilo Hills gehad en by die sewentig Hambukushu Boesmans kon in hulle eie taal die Jesus-film beleef. Mac staan in dankbaarheid, want hy sê hy weet nie waar, in die middel van “niks”, al die mense vandaan gekom het nie. Daar was groot vreugde in menige harte.

 

Die groep is vandag oppad huistoe vanaf Kang en ons wil veral vir Johan Marnewick van Kang Ultra Stop baie, baie dankie sê dat hy hulle (soos talle groepe vantevore) bederf het met gratis verblyf in die lodge. Dis mos makliker om die pad huistoe aan te pak na ‘n goeie bed en bad…

 

Ons bid saam vir die groep se veilige terugreis, dat elke Bybel ‘n seën vir die ontvanger daarvan sal wees en veral vir die sendelinge in Botswana (en sendelinge in ander lande) wat kosbare werk doen.

 

Alle eer aan die Here vir die geleentheid wat ons gehad het om vir Hom te werk. ‘n Opregte dankie aan elke uitreikondersteuner wat deur donasies en gebede hierdie uitreik moontlik gemaak het.

 

Hiermee ons spesiale Kerswense vir jou.

 

God gee vir jou:

Die lig in Kersfees – dit is die geloof.

Die warmte van Kersfees – dit is die liefde.

Die helderheid van Kersfees – dit is reinheid.

Die regverdigheid van Kersfees – dit is Sy geregtigheid.

Die geloof in Kersfees – dit is die waarheid.

Ja, Hy gee vir jou álles van Kersfees – en dit is Christus.

 

-Wilda English-

Bybel by die grens

 

18 Des 2015

Die afgelope twee dae het die groep weer besef dat ‘n mens se planne nie altyd uitwerk nie. Pas nadat ons Donderdag laat weet het hulle vertrek na Shakawe, het Mac ‘n gebedsversoek vir Drikus se gesondheid deurgestuur. Drikus kon nie bestuur of vervoer word nie en die groep het die dag in Seronga gebly. Laat gistermiddag bel Drikus self om  dankie te sê vir die gebede en te laat weet hy voel goed genoeg om Vrydag te ry. Ongelukkig het hy vanoggend weer sleg gevoel en het hulle later as beplan uit Seronga vertrek.

 

Dis ongeveer 100 km vanaf Seronga na die ferry en ‘n mens ry omtrent 2 uur daaraan. Knap na twaalf was hulle by die ferry, maar daar was baie verkeer. Toe dit hulle beurt is, gaan Drikus eerste met sy voertuig of die ferry, want daar is ‘n vragmotor saam met hom, wat beteken Mac kan nie ook met sy voertuig en die sleepwa op die ferry pas nie. Die vragmotor was redelik breed en dié het toe in die middel van die ferry parkeer. Aan die oorkanste oewer breek die vragmotor toe met die afryslag. Die voorwiele is aan land en die agterwiele nog op die ferry. Meer as twee uur later laat weet Mac die ferry is weer aan die gang en hulle is nou volgende in die ry.

 

Die groep het na vyfuur vanmiddag by Jerry & Magda Minny op Shakawe aangekom waar hulle die oorblywende Bybels afgelaai het en vanaand slaap hulle by Willemien le Roux (‘n ware Boesmankenner) wat naby Krokovango Crocodile Farm woon. Hulle beplan DV om môreaand by Tsodilo Hills uit te reik met die Jesus-film in Hambukushu.

 

Ons sê baie dankie aan Reece Terrell van MegaVoice wat vir ons die vorige terugvoerinligting in ‘n video verwerk het. Gaan geniet die beeld by die onderstaande skakel en voel vry om dit met vriende te deel.

 

Youtube link of outreach: https://youtu.be/wEG2Nu6V7_8

 

Ons bid vir elkeen van die groep en veral vir Drikus se gesondheid. Mag elke Bybel ook in hierdie Kersfees die boodskap van Christus vir die mense van Botswana bring.

Vroegoggend op die Okavango_Seronga

 

 

17 Des 2015

 

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het ‘n wonderlike tyd saam met Willie Booyse en Freddie de Waal van Delta Cross Ministries deurgebring op die oewer van die Okavango-Delta in Seronga. Hulle het gaan kyk hoe lyk die kerkie en ‘n paar foto’s geneem sodat ons ook kan “sien” hoe lyk dit waar die kosbare vrag Bybels heen gaan en gereeld vir hulle werk daar kan bid.

 

Hulle het ook die groep van twaalf Amerikaanse jongdames (World Race Team) wat vir Desember by Delta Cross Ministries werksaam is ontmoet en Johan Grobler van MegaVoice kon vir hulle demonstreer hoe die oudio-Bybel werk en verduidelik hoe dit die sendelinge se boodskap ondersteun in ‘n land waar daar nog heelwat ongeletterdheid is.

 

Vandag vertrek die groep DV na Shakawe waar hulle Jerry Minny se Bybels sal oorhandig en na Tsodilo Hills (waar hulle toe nie oppad aangedoen het nie) om die Jesus-film te vertoon. Ons bid dat dit waarlik ‘n geseënde geleentheid vir die Hambukushu-gemeenskap sal wees wat die film in hulle eie taal sal hoor.

 

Nogmaals dankie vir elkeen se ondersteuning wat dit vir die groep moontlik gemaak het om daarheen te gaan en die Bybels uit te deel. Bid asseblief saam vir die groep se veilige reis verder.

Johan & Amerikaners IMG-20151217-WA0005MacJohanWillieIMG-20151217-WA0007SerongaKerkIMG-20151217-WA0000Willie MacIMG-20151217-WA0002Joseph & EstherIMG-20151217-WA0008

 

 

16 Des 2015

 

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het oppad Ds Gawi Joubert se Bybels vir hom afgegee. Ghanzi se gemeente het weer hulle kerksaal beskikbaar gestel vir die uitreikgroep se oorslaap en Ds Albertus het by hulle kom oogwys.

 

Net buite Ghanzi het hulle Bybels afgelewer by D’Kar se Boesmangemeenskap waar hulle heerlik met Hessel gekuier het. Langs pad het hulle ook by Leon Zeilinga van Love the World Missions oorgeslaap en Dinsdagmiddag het hulle in Seronga aangekom waar Willie Booyse van Delta Cross Ministries en Freddie hulle Bybels ontvang het.

 

Die groep laat weet dat dit baie goed met hulle gaan. Dankie dat jou gebede dit vir hulle moontlik maak om hierdie taak uit te voer. Alle eer aan God wat bereid is om mense te gebruik om die Woord te versprei.

 

Ons bid die groep seën toe op hulle reis verder.

 

Jerry Shakawe by gemeentelede

 

13 Des 2015

 

Danksy jou bydrae, hetsy deur gebed, finansiële ondersteuning, skenking of bemoediging, is die Bybels-vier-Kersfees (B4K) uitreik in volle swang. Die groep het Saterdag na Botswana vertrek, hulle het veilig gereis en ‘n probleemvrye grensoorgang gehad. Dankie vir elkeen wat saam met ons hiervoor gebid het. Gisteraand het hulle in Lobatse by Len van Onselen van Word to Africa Botswana oornag. Sondag pak hulle die pad via Kang na Ghanzi aan en van daar tot by Seronga op die Okavango-Delta. Langs pad sal hulle DV aandoen by:

  • Ds Gawi en Dina Joubert op Xanagas.
  • Leon en Annatjie Zeilinga van Love the World Missions op Sepupa.
  • Jerry en Magda Minny van Shakawe.
  • Willie en Estelle Booyse van Delta Cross Ministries.

 

Ons bid vir groot seën op die werk wat hierdie sendelinge in Botswana doen asook dat elke Bybel, CD en oudio-Bybel by die regte persoon sal uitkom.

 

FB_IMG_1449636778509FB_IMG_1449636784243

IMG_0014IMG-20151212-WA0006

Bybels-vier-Kersfees 2014 terugvoer

Bybels-vier-Kersfeesuitreik: Terugvoer: 16 Des 2014

B4K2014 01 Span

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het Saterdagoggend na Botswana vertrek met die kosbare vrag Bybels en klere. Baie dankie vir elkeen wat bygedra het om hierdie uitreik moontlik te maak.

Ons het veral gebid vir die grenskruising, want in die verlede moes ons al invoerbelasting op die tweedehandse klere betaal. Hierdie grensdeurgang was egter probleemvry.

Teen skemer Saterdagmiddag het hulle besluit om eerder in Kang te oornag as om in die donker deur te ry na Ghanzi. Dankie Johan Marneweck van Kang Ultra Stop vir die gratis verblyf wat jy vir die groep gegee het. Ons is baie dankbaar vir elke keer wat julle ons nog op hierdie wyse bederf het.

Sondagaand het hulle Ghanzi-gemeente se Kerssangdiens bygewoon en ook die nuwe predikant, Ds Louw, ontmoet. Hulle het in die kerksaal (wat vir uitreikgroepe ingerig is) oornag. Dit reën sedert Sondag en dit het die pakwerk Maandagoggend vertraag en hulle het eers 12:00 na Nxau-Nxau vertrek.

Maandagaand baie laat het hulle by Gladys, die sendingwerker, in Nxau-Nxau aangekom. Omdat dit só nat was, het hulle nie tent kon opslaan nie. Twee manne het gekies om in die motor te slaap en die ander drie spanlede het in Gladys se huis geslaap. Dinsdag was die plan om saam met Gladys klere vir die armstes uit te deel, mense in die dorpie te besoek en die aand die Jesus-film te vertoon.

Ons dien ‘n groot God wat in alle opsigte voorsien. Dankie vir jou volgehoue gebede.

B4K2014 07 16 Bybels per boks = 11 kgB4K2014 02 Alby Gail Eric

Bybels-vier-Kersfeesuitreik: Terugvoer: 18 Des 2014

Die Bybels-vier-Kersfeesgroep het ‘n besige week gehad. Maandagoggend het hulle die meer as 400 Bybels en klere mooi verdeel sodat elke Sendeling (by wie hulle nie kan uitkom nie) se gedeelte in Ghanzi gereed sal wees vir hulle om af te haal. Maandagaand het hulle baie laat op Nxau-Nxau aangekom ná ‘n byna agt-uur lange rit, waarvan drie uur se ry in die reën en in die donker was.

Dinsdagaand het hulle by ‘n “village”, Jobo, met die Jesus-film uitgereik. Die hele dorpie het die uitreik bygewoon – al 23 mense. Dit was ‘n geseënde tyd vir almal.

Die dae is bloedig warm en gister het die temperatuur by die 40º gaan draai. Gelukkig staan hulle kampplek onder ‘n afdak wat ‘n paar jaar gelede deur ‘n Kaapse uitreikgroep gebou is.

Woensdagaand het hulle met die Jesus-film na die Humbukushu-Boesmans in die !Xabattsha village uitgereik. Een van Gladys, (die sendingwerker van Nxau-Nxau), se dameskollegas, Maani, het hulle die pad daarheen gewys. Mac sê dit was ‘n nogal ‘n nagmerrie, draai-draai, diksand, enkelpad wat byna toegegroei is met bosse. Maani het ook as tolk opgetree en op daardie manier kon die Humbukushu die film in hulle eie taal hoor. Daar was ongeveer 50 mense by die geleentheid.

Die groep het eers teen middernag weer by die kampplek aangekom. Moeg, maar dankbaar dat hulle in !Xabattsha kon bedien en veilig kon terugreis. Die plan is om vanaand (Donderdagaand) by die Hoofman se nabygeleë veepos uit te reik. Die Hoofman is die uitreikgroep baie goed gesind en ondersteun die werk wat Gladys doen.

Vanoggend het sendeling Willie Booyse van Seronga gebel om te laat weet dat daar groot reën vanaf Vrydag vir daardie deel voorspel word. In die lig van die slegte grondpad wat hulle vanaf Nxau-Nxau na Gumare moet ry, het hulle besluit om al Vrydagoggend op te pak en na Ghanzi te vertrek. Mac sê dit het hulle meer as drie ure geneem om die 140 km met die afkomslag te ry en dan het hulle nog 370 km se ry vanaf Gumare na Ghanzi.

Mag ons vra dat jy asseblief saam met ons sal bid vir die mense van Nxau-Nxau, Jobo en !Xabattsha sodat hulle werklik die Here se stem sal hoor en die Boodskap sal verstaan. Ons bid ook vir seën vir Gladys en op haar bediening. Sy doen wonderlike werk onder die mense. Laastens vra ons dat jy asseblief die groep te terugreis ook in jou gebede sal voorhou.

Naskrif: Gladys se droom is vir ‘n naaimasjien. Die handwerk of voetwerksoort – nie elektrisiteit nie. Sy is nogal handvaardig en voel dat sy ook deur naaldwerk haar gemeenskap beter kan dien.

‘n Tipiese Botswana pad en Jesus-film-uitreik…

B4K2014 03 Botswana paaieB4K2014 04 Jesus-filmuitreik

 

 

2013 Bybels-vier-Kersfees: terugvoer

 

B4K2014 03 Botswana paaieB4K2014 06 Kang Ghanzi & Nxau-Nxau

23 Desember 2013

Uitreikterugvoer: 23 Des 2013: Die manne is veilig tuis. Dankie Here. Mac het om 00:08 vanoggend tuis gekom ná vyftien uur op die pad. Alles het voorspoedig afgeloop en dit is weer eens net ‘n bevestiging dat geen uitreik sonder gebed aangepak kan word nie.

 Ons bid julle elkeen ‘n ware Christusfees toe.

 OutreachAfrica-groete

 Uitreikterugvoer 22 Des 2013: Weens die reën was die pad na Seronga baie sleg en op aanbeveling het Mac-hulle Wille Booyse van Delta Cross Ministries se Bybels by Jerry Minny afgelewer. Hulle het Vrydag van daar af vertrek en by Mahangu in Namibië oornag oppad deur die Caprivi-strook na Kasane. Gister het Johan met ‘n toeristebussie, Victoria-valle gaan besoek – sy spesiale versoek vir die terugreis. Mac het in Kasane agtergebly.

Laatmiddag, terwyl hy die sleepwa regpak, het hy vasgestel dat die sleepwa se as geskuif het. Mac kry toe by Ds Chris van Waverley kontakname van mense wat hom dalk in Kasane kan help.

Later die aand skryf Mac: “By navraag te Old House Restaurant of Ken Webster hier is, vra omi by die toonbank hukom k hom soek. Verduidlik hom van di trylir. Sê hy hy kan help. Hy is die eienaar van Garden Lodge net langsaan Old House. Hy het ‘n workshop en ek kan trylir 7 uur bring da fix ons hom…. Man oh man, oh man… We serve and amazing God. Danki Jesus.”

 Ons laat weet Ds Chris. Hy skryf terug: “Ek is bly. Lyk my die antwoord is net om ‘n proses aan die gang te sit. Die Here veroorsaak die kinkel in die storie.”

Mac het 09:30 Sondagoggend laat weet hulle is oppad en sal langs pad oorslaap en DV Maandag die langpad voltooi.

Nogmaals baie, baie dankie dat julle gebede die Bybels-vier-Kersfees dra en dat ons kan weet dat elkeen van die 580 Bybels en die klere wat afgelewer is, hierdie Kersfees ‘n verskil in menseharte en lewens gaan maak.

 OutreachAfrica-groete

—————————-

18 Desember 2014

B4C 2012_0844B4C 2012_0834a

Mac skryf aan die Uitreikondersteuners:

12/19/2013: Die lekkerte van die kuier met Leon (Zeilinga van Love the World Ministries) wou net nie end kry nie. En tu ons uiteindlik sê nòù ry ons, sak daar ‘n reënbui uit wat ons binne hou … Lank genoeg dat die uitry Seronga (na Delta Cross Ministries) toe nie meer haalbaar was nie. Gaan ons eers deur Shakawe toe om te kyk of daar petrol is vir Leon. Die reëling was dat ons hom sal bel as daar was. Die een pompstasie het net diesel. Die ander een het nie lekristeit ‘ie. Aijjj tog.

Kry toe by Choppies (die plaaslike winkel) ‘n lappi vleis en roerbraai en draai trug Krokavangu toe om die DCM & Nxau-Nxau Bybels en klere by Jerry Minny (sendeling van NG Miederpark-gemeente) af te gee. En hoop hulle het vir ons slaapplek…

Daar aangekom toe is Jerry en gesin Tshodilo Hills toe. Klop toe by Willemien le Roux aan, wie mos nou Jerry se naaste bure is. My WOW vir die dag was om die blye weersiens tussen Johan en Willemien te sien. Hulle het in 1985 laas mekaar gesien toe hulle aan D’Kar kerk gebou het. Ds Braam is 4 jaar gelede oorlede maar Willemien hou nog die fort by die Sendingstasie….

 Aijjtog, slegte nuus. Hulle is van mening dat Jerry-hulle in Tshodilo gaan oornag. Ek aanvaar dit gelate en gaan maak die sleepwa leeg van die laaste vrag Bybels en klere in ‘n tent daar by Jerry se blyplek so 600 meter rivier op….

Net toe ons klaar is, hier kom Jerry-hulle aan. Toé kuier ons. Vroeër het ek die lappi vleis en stir fry se roerbraai vir Willemien gegee. Sy sal moerby maak vir aandete, want Dieter moet ook kos kry.

Uitgekuier by Jerry hulle… Laaank na donker agter agtuur kry ons koers na Willemien se boshuis. Dieter (dis nou hy wat die aanbou en verbeterings daar by Willemien doen) het die aandete aangeslaan. Kudu en ons stukki bees en Stroganoff gemaak. Met bruinrys en daai Franse roerbraai. Vreet ‘k my ùit my geloof inne nuwe sekte in.

 Jerry kom ook agterna oor. Ons praat Uitreik en bediening en Jesus se amazing deelname in ons menslewens… Ounag gaan slaap ons. .. Ek het vrede in my hart. Willie sal sy Bybels en klere kry. Hy sal Gladys se deel by Nxau Nxau besorg. Ons “uitreiktaak” is afgehandel.

 Na baie wik en weeg besluit ons om tog maar die sowat 200km draai te ry dat Johan ook die Caprivi, Kasane en Chobe kan ervaar. En DV die 70 km in Zim in dat hy die Vic valle ook kan sien. Die tyd loop ons in om betyds Ngoma te haal. En ons slaap oor.

O ja… Ek kry toe die taak om ontbyt te maak. Ons gee wors, eiers, boelibief en kasie. Op Willemien se stoof maak ek ‘n 5-ster omelet. So kom ons by die besluit…. Vanaand slaap ons oor by Mahangu … In my boekie die mooiste beste vriendelikste lodge in hirri heel kol van Namibië…

Johan kanni genoég kry van die trop seekoeie wat hier oorkant ons kawolt nie. Die lot is nou uit die water en staa wei oppi oorkantste oewer. Twee visarende rivier op sit ‘n duet vir ons sielsgenot op. ‘n Koel bries klap ons uit die ooste. Die Okavango se waters maak perdjies.

In my binne het ek vrede. In my binne het ek rus. Môre na ontbyt tekkil ons die Caprivi. DV slaap ons môreaand op Kasane.

Ja. Die uitreikaflewering is klaar. Maar ons het steeds jou gebed nodig. Om ook staande te bly teen die vyand se aanslae. Sy lis het geen einde nie. En ook dat ons veilig tuis sal kom.

 Oorkant die water hugg hugg hugge hugg hjoeeee hjoeeee ‘n seekoei. Visvanger voëltjie tjaaarts hier verby en skel op ek weet nie wie nie. Die visarend skril ook weer sy “Êkkkite vis gevang en wat daarvan” oor die water. Talle tortelduiwe sit en huismoles “Sitte-bikki-soeeentu” met mekaar. Hier skuins agter sit een en “Jou murrrrrr” vir my sê. Die Jan Frederik tjip ook in “Wil jy tjips hê”… En onder ons klots klots die Okavango waters teen die houtdek aan. Bo my hang die groot donderwolke roerloos, want Wind het intussen gaan lê. Die hitte is trug. Lekker soel 34 c… Met ‘n humiditeit van by die 100….

 Jippp, dis mý Afrika die. Mag Die Woord in oordaat ook hier versprei word…

 

Uitreikgroete

————————–

17 Desember 2013

B4K2013 Menzo boekies B4K2013 580 Bybels gelaai

Beste Uitreikondersteuner

 Mac skryf self uit Botswana:

 Vir jarre al sê ek vir Chris Lötter: Priester, dis mý Afrika hirri… Dan sê hy – dis myne ook.

 Jy moet eers hier wees om dit te ervaar om te verstaan. Die bokklokke klingel af kraal toe. Kinderstemme antwoord op die ouers se roepe. Die spreeus kwetter vir ‘n vale in die riete en bome. ‘n Spookvoël fluit… iewers. Leon is oppad na hulle Bybelstudie. Johannes 10 vir vanaand. Hy het ‘n armvol van die Bybels wat ons gister afgelewer het om saam te dra.

Ek is weer “kok” vanaand. Karig maar t’ gan lekker wees. Wors en smash… Het Johan so ‘n bietjie Sepopa Swamp Stop toe gevat en hy het van die dek af oopmond die wonder van die Delta se mooi ingedrink.

 Hier langsaan moeeee ‘n koei na haar kalf. Die wolke speel “rolmekaar” hier bó ons. Dit ruik na reën. Iets het my bene vreeslik gebyt. Honderde rooi bytplekke tot hoog bo. Ek smeer maar Antisan.

 Môre het ons ‘n afspraak met Jerry Minny by Shakawe. Sy Bybels afgee en dan Seronga toe en daar die laaste Bybels en klere oorhandig.

 Dan is die B4K vir 2013 klaar en dan vat ons die lang pad terug …

Hierdie uitreik is ‘n “down memory lane” vir Johan… By Kang vind ons uit hy ken Johan Marneweck al van weermagdae doer in die 80’s af. Sendeling Hendrik du Preez en Johan was saam op Potch universiteit. Die Tannie wat die boek oor die Boesmans geskryf het, Willemien, ken hy ook uit die 80’s … Dis waar Jerry-hulle nou bly. So DV sien Johan haar ook weer môre. Leon moet in Maun wees om hulle permitte te gaan reël, maar hy sal dan Kang langs ry om daar die NT Bybels te gaan afgee wat Johan daar in die nuwe kamers wil plaas. Die Gideons is nie hierlangs bedrywig nie.

 Hirri amper lui dag in oor 30 grade hitte sleep end se kant toe. Die in-en-uit pakkery het my rug bikki gevang. Sal die pil inname vanaand verdubbel. Hoop dit help. Maar bid is beter…

 Die mooi van Afrika is om ons. Dis mý Afrika die. Ek kan nie ook soos Mbeki sê: I am an African, nie… Ek kan wel soos ek sê: I am a child of Africa. By birth. But I am a child of GOD by grace. Grace earned by Jesus. Dankie Jesus.

 Dankie vir elkeen wat vir ons bid. Wat bygedra het. Wat in wese saam met ons hier is. Aan elkeen wat saam bid, saam gee, of sommer net dink aan ons…

 Die 1,000 Bybels het ons nie gehaal nie… Maar dit was Mac se idee. Dit wat Jesus bestem het om hier te wees, dis hier in Botswana. Dis warm. Die paaie wemel van beeste bokke en baisiekkuls. Maar julle “saam wees” hier maak dit spesjil.. Dankie. Ons is byna klaar. Nog 2 punte om te gaan aflewer. Dan gaan ons so ‘n 200 km draai ry vir “eie tyd” en dan die langpad huis toe aanpak.

 Hou asb aan met bid vir ons..

 Dankie Vader dat ons deel mag wees hiervan.

 Blessings

 Mac & Johan

B4K2014 05 Botswana en sy mense