Neels de Waal 02

15 Feb 2015

Liewe Vriende

Die dag toe ek klaagliedere gelees het.

As jy nou ’n man wil sien wat kan wroeg, dan moet jy na my kyk. Ek kan oor die kleinste dingetjie wroeg. Net vanmiddag kom hier ’n dronkerige ou op ’n donkiekarretjie verby. Hy stop toe hy my sien en praat sommer sy ou dronkmanspraatjies so oor die draad langs. Ek probeer rêrig kalm bly. Ek antwoord hom mooi terug sonder om beledigend te wees. Jy ken mos daai storie van: “For by the grace of God, there walks I.” Maar die outjie is nou nie so soos ek nie. Hy maak my eintlik kwaad.

By hom op die karretjie was drie pragtige kinders, veral die ou dogtertjie, wat vir my Meneer sê. Sy ken my mos van ons werk by die skole sien. Ek sien nou nog daardie ogies en ook die skaamte vir Pappa wat sit en nonsens praat.

Later verskoon ek myself maar net en toe loop ek en wroeg. “Het ek nou waarlik die Lig van Jesus geskyn? Kon ek hom nie anders geantwoord het nie? Kon ek nie maar deur die hek gegaan het en met hom probeer praat het nie?” Het ek die dogtertjie dalk seergemaak? Kon ek nie maar net nadergegaan het en vir haar gesê het ‘alles is oraait’ nie.

Nou ja so wroeg ek oor baie dinge en dan wroeg ek nog oor ek wroeg ok. Wroeg ander mense ook so? Hoekom wroeg ek so oor die kleinste ou dingetjie? En as ek nou so wroeg dan gesels ek sommer met ons Hemelse Vader ook en dan vra ek partykeer vrae en dan partykeer antwoord Hy my.

Ek skryf hierdie sommer vir julle want miskien is daar een van julle wat ook nou met ietsie wroeg, groot of klein en kan dit vir julle iets beteken.

So onthou ek die dag, seker darem nou ook al twintig jaar gelede, wat ek alleen by die huis was. Dit was ’n Saterdagmiddag. Wena en die kinders was op die tennisbane en ek was maar daar om die huis besig. Waaroor ek gewroeg het, kan ek nou glad nie meer onthou nie. Die wroeginge was al te veel en ek het nie dagboek gehou nie, sou buitendien vir niks anders tyd gehad het nie en die dagboek sou net nog ’n wroeging gewees het.

Nou sit en wonder ek net: “Moes ek nie maar dagboek gehou het nie?” Toemaar ek sal later daaroor wroeg, wil nou eer die brief klaar skryf.

In elk geval ek sit en kla toe by Vader oor dit en dat wat dan nou verkeerd is en waaroor ek dan nou wroeg.

 

Die dag het Hy my geantwoord. Hy sê vir my: “Gaan lees Klaagliedere 3.” Ek sug baie diep. “Here, hoor ek nou reg? Ek is so vol klagtes en dan moet ek nou nog Klaagliedere ook gaan lees?” Met die maak ek my oë sommer toe en sit ’n rukkie doodstil en probeer ’n ander gedeelte uitwroeg, maar Klaagliedere 3 bly die antwoord.

Sommerso met die oopmaak val my oog op vers 39. Luister nou mooi! ‘Wat kla ‘n mens oor sy lewe? Hy moet liewer sy sonde oorwin. ’

Ja, inderdaad. Ek kla oor my lewe, maar vergeet bietjie van my sonde.

En toe het ek sommer nog iets om oor te wroeg.

Ek lees toe die hele hoofstuk en as daar nou een ou was wat rede gehad het om te kla was die Jeremia. En tog was dit die antwoord wat hy gekry het en wat ek gekry het.

As ek mooi daaroor dink, is dit tog die oplossings vir al ons gewroeg en geswoeg. Kom ons probeer dit en dan vat ons daai sonde en sit dit by Jesus se voete neer en dan hoef ons daaroor ook nie meer te wroeg nie.

Met baie liefde

Neels


 

Neels groente

My groente wil nie vrug dra nie.

5 Jan 2015

Ek vra raad en hulp asseblief. Kyk op hierdie foto hoe mooi lyk my tamatie tuin. Net een probleem daar is omtrent geen tamatie aan nie. Net so hier en daar enetjie en die pas ek soos goud op dat goggas dit nie eerste eet nie.

My beet groei wonderlik, bo die grond, maar trek ek hom uit lyk hy so groot soos ’n radys, die radyse lyk soos uintjies en die wortels is net sulke ou maer goedtjies of andersins ’n groot bolyf maar niks ondertoe nie.

So, wat my eintlike probleem is, die groente groei verskriklik, maar dra geen bruikbare vrugte nie. En die is nou regtig! Al wat werk is spinasie, want daarvan eet mens darem mos die blare sien. Selfs my rankboontjies dra nie soos ek gewoond is nie. Hulle gee darem so plukseltjie per dag.

Ek het die grond goed voorberei, hulle kry genoeg water. Ek het al gedink om minder water te gee, dat die wortels en beet kan dors word en as hulle dan water kry so bly is dat hulle sommer alles opsuig en uitswel.

Ek het regtig alles probeer. Nou weet ek dit is moeilik om raad te gee as jy nie self sien wat aangaan nie, so los maar, maar gee my tog maar raad oor myself.

Jy sien, ek sit met dieselfde probleem, ek het ook bietjie gegroei, dis arrogant om te sê ek het baie gegroei, dis nou geestelik meen ek, maar die vrugte is ook maar min en die wat daar is, is maar verkrompe en soms so van die wurms dat dit ook nie eintlik bruikbaar is nie.

Ek dink nie ek is die enigste een wat met die probleem sukkel nie. Net gister praat ’n broer hier in die dorp met my en blykbaar bly ons Vader met hom gesels oor: “Jy doen nie wat ek sê nie!” Of daai storie van Jona: Jy’s op verkeerde skip.

Ek meen ons gaan kerk toe, watter kerk nou ook al, juis om “Geestelik te groei.” En dit is wonderlik, ons moet en behoort dit te doen. Ons doen allerlei CFI en nog ander kursusse ook. Ons kyk heeldag kruiskyk, bestel geestelike CD’s en DVD’s en ons groei en groei en groei, maar is daar vrugte? Hoe lyk die vrugte?

So met gister se gesprek saam sê ’n volgende broer toe, ja maar kyk jy moet Christus leef daar waar jy werk of enige plek waar jy is. Dit is wonderlik, natuurlik moet ons. Maar is dit al wat Hy vir ons gesê het om te doen? Sien dit kan ook ’n gerieflike gemaksone word. Leef net die liefde van Jesus uit.

Ek wil nou nie oor ander mense praat nie, maar ek gaan regtig in 2015 probeer om meer vrugte te dra, die gegroeiery het my nou moeg gemaak, ek wil graag vir ons Vader bruikbare vrugte dra. Mag Hy my daartoe help. En as jy wil, vir jou ook!

Liefde

Neels

Neels de Waal 01 Neels de Waal 03

 


 

Liewe Vriende

Net maar om te sê ons is steeds in diens van ons Hemelvader, so met ons tekortkominge en al. Ons is nou besig met Bybelstudie uit Johannes en dit val op hoedat Jesus gedurig vir die Jode vertel wie Hy is en tog wil hulle Hom nie glo nie – hulle wil Hom net uit die pad hê. Ons het lank oor daaroor gewonder en gedink wat dit vir ons vandag kan beteken totdat ons insien dat dit vandag nog dieselfde is, ook in ons bediening.

Dit maak nie saak wat jou werke of gesindheid is nie, mense wil jou CV sien. Waar is jy opgelei, jy is dan die timmerman (In my geval – grofsmid) se seun? Waar jy kom aan die soort van wysheid? Wie gee jou die reg om ons te wil leer? Aan watter teologiese skool het jy studeer? Wat is jou dogma?

1Soos Jesus wil ons ook maar net ons Hemelvader se wil doen. O, maar dit is ook nie reg nie: “Stel jy jouself nou aan Jesus gelyk?” Dit is darem net te erg!

Genoeg nou daarvan, kom ons vertel net so kortliks waarmee ons besig was. Ons het toe gedurende Desember twee keer kospakkies kon uitdeel en weer in Januarie. Die beplanning is om komende Vrydag weer Februarie se pakkies uit te deel. Ons het nog fondse vir Maart maand. Aan die einde van die nuusbrief gaan ek anders as gewoonlik vir U ’n bankrekening nommer gee, die rekening word spesiaal net vir die voedingsprojek gebruik. As U voel dat U vir die doel wil bydrae is U welkom.

Verder het ek (Neels) en Frans met die Geestelike sanger Willie Pretorius (Wenspan) al die Kalahari skole besoek. Willie het regtig swaar gekry want dit was ook die warmste week van die jaar gewees. Ons het ook swaar gekry maar ons is darem soort van gewoond aan die hitte. Tog was dit ’n baie geseënde tyd gewees, vir ons, maar ook vir al die kinders wat bereik is. Willie is regtig ’n geseënde van die Here wat kinder bediening aan betref. Maar ek het dopgehou en gesien die onderwysers het net so deelgeneem en was net so geraak deur die eenvoudige boodskap van die evangelie. Vrydag het Susan hom by Raaswater en Leseding se skole gehad.

 

2

Willie by Rietfontein

Die wonder in die Kalahari was dat daar nie sommer bekende sangers daarheen kom nie. Dit is ’n droom waarmee ek al jare rondloop om geestelike sangers daarheen te neem en nou het dit gebeur. Ons het al baie sangers genader maar hulle tariewe was net te hoog. Willie het Sy eie borge gekry en ons hoef net die verblyf, brandstof en kos te voorsien het. Willie het aangedring om die drinkgoed te koop. Ek dink toe hy die hitte voel was hy bang ons koop te min.

Ons het ook weer die negentien skole besoek wat aan die Pro-Regno projek deelneem en almal is weer vuur en vlam om die nuwe jaar voluit met die program te gaan. Net ter inligting van nuwe lesers, dit gaan daaroor dat die Gr.6 leerders elkeen ’n Bybel en Twaalf lesse kry met die basiese evangelie en Gr. 7 leerders kry ’n opvolg kursus ook van twaalf lesse wat die onderwysers met hulle deurwerk. Aan die einde van die jaar kry ons die boekies terug om te merk en kry die kinders wat deelgeneem het sertifikate.

Dit gaan daaroor dat baie kinders nie meer Sondagskool of Kinderkerk bywoon nie en dat hulle geen Christelike opvoeding kry nie. Destyds toe ons in Botswana was, het ’n onderwyser vir my gesê dat hulle al die godsdienste in die skole moet behandel, soos nou ook by ons skole, maar dat hulle baie boeke het oor die Moslem geloof maar geen Bybels het nie. Ons dank ons Vader dat ons vir hierdie negentien skole ’n verskil kan maak. Daar is nog baie skole in die omgewing maar ons kan nie meer hanteer nie. U moet besef dit is reeds 2000 leerders wat beteken ons moet in Oktober maand 24000 boekies nagaan. Wena het verlede Oktober feitlik dag en nag gewerk.

Net voor Kersfees het ons in ’n parkie naby ons huis, regoor Smartie Town ’n Kerssang aand gehou. Daar was baie kinders wat dit bygewoon het, maar nie baie volwassenes nie.

Bernice het grootliks by Susan ingeval en hulle is baie bedrywig met die kinders, maar daarvan sal Susan se nuusbrief meer vertel.

Ons almal sê vir U dankie vir gereelde gebede, oproepe, SMS’e en baie ander maniere van ondersteuning, ook vir genoegsame finansiële steun. Met die dat ons nou dubbel soveel mense in die gesin is was ons maar bekommerd oor finansies, maar deur U het ons Vader genoegsaam voorsien. Daarvoor dank ons Hom, maar ook vir elkeen wat aan Hom gehoorsaam was. Ons waardeer dit regtig.

En nou die bank besonderhede vir die voeding projek. ABSA Kode 632005 Rekening: 9238555464. Rekng. Naam: Cornelius Bediening.

 

Baie groete

Neels, Wena, Susan, Frans, Bernice en Simoné.