Liewe Vriende

Net maar om te sê ons is steeds in diens van ons Hemelvader, so met ons tekortkominge en al. Ons is nou besig met Bybelstudie uit Johannes en dit val op hoedat Jesus gedurig vir die Jode vertel wie Hy is en tog wil hulle Hom nie glo nie – hulle wil Hom net uit die pad hê. Ons het lank oor daaroor gewonder en gedink wat dit vir ons vandag kan beteken totdat ons insien dat dit vandag nog dieselfde is, ook in ons bediening.

Dit maak nie saak wat jou werke of gesindheid is nie, mense wil jou CV sien. Waar is jy opgelei, jy is dan die timmerman (In my geval – grofsmid) se seun? Waar jy kom aan die soort van wysheid? Wie gee jou die reg om ons te wil leer? Aan watter teologiese skool het jy studeer? Wat is jou dogma?

1Soos Jesus wil ons ook maar net ons Hemelvader se wil doen. O, maar dit is ook nie reg nie: “Stel jy jouself nou aan Jesus gelyk?” Dit is darem net te erg!

Genoeg nou daarvan, kom ons vertel net so kortliks waarmee ons besig was. Ons het toe gedurende Desember twee keer kospakkies kon uitdeel en weer in Januarie. Die beplanning is om komende Vrydag weer Februarie se pakkies uit te deel. Ons het nog fondse vir Maart maand. Aan die einde van die nuusbrief gaan ek anders as gewoonlik vir U ’n bankrekening nommer gee, die rekening word spesiaal net vir die voedingsprojek gebruik. As U voel dat U vir die doel wil bydrae is U welkom.

Verder het ek (Neels) en Frans met die Geestelike sanger Willie Pretorius (Wenspan) al die Kalahari skole besoek. Willie het regtig swaar gekry want dit was ook die warmste week van die jaar gewees. Ons het ook swaar gekry maar ons is darem soort van gewoond aan die hitte. Tog was dit ’n baie geseënde tyd gewees, vir ons, maar ook vir al die kinders wat bereik is. Willie is regtig ’n geseënde van die Here wat kinder bediening aan betref. Maar ek het dopgehou en gesien die onderwysers het net so deelgeneem en was net so geraak deur die eenvoudige boodskap van die evangelie. Vrydag het Susan hom by Raaswater en Leseding se skole gehad.

 

2

Willie by Rietfontein

Die wonder in die Kalahari was dat daar nie sommer bekende sangers daarheen kom nie. Dit is ’n droom waarmee ek al jare rondloop om geestelike sangers daarheen te neem en nou het dit gebeur. Ons het al baie sangers genader maar hulle tariewe was net te hoog. Willie het Sy eie borge gekry en ons hoef net die verblyf, brandstof en kos te voorsien het. Willie het aangedring om die drinkgoed te koop. Ek dink toe hy die hitte voel was hy bang ons koop te min.

Ons het ook weer die negentien skole besoek wat aan die Pro-Regno projek deelneem en almal is weer vuur en vlam om die nuwe jaar voluit met die program te gaan. Net ter inligting van nuwe lesers, dit gaan daaroor dat die Gr.6 leerders elkeen ’n Bybel en Twaalf lesse kry met die basiese evangelie en Gr. 7 leerders kry ’n opvolg kursus ook van twaalf lesse wat die onderwysers met hulle deurwerk. Aan die einde van die jaar kry ons die boekies terug om te merk en kry die kinders wat deelgeneem het sertifikate.

Dit gaan daaroor dat baie kinders nie meer Sondagskool of Kinderkerk bywoon nie en dat hulle geen Christelike opvoeding kry nie. Destyds toe ons in Botswana was, het ’n onderwyser vir my gesê dat hulle al die godsdienste in die skole moet behandel, soos nou ook by ons skole, maar dat hulle baie boeke het oor die Moslem geloof maar geen Bybels het nie. Ons dank ons Vader dat ons vir hierdie negentien skole ’n verskil kan maak. Daar is nog baie skole in die omgewing maar ons kan nie meer hanteer nie. U moet besef dit is reeds 2000 leerders wat beteken ons moet in Oktober maand 24000 boekies nagaan. Wena het verlede Oktober feitlik dag en nag gewerk.

Net voor Kersfees het ons in ’n parkie naby ons huis, regoor Smartie Town ’n Kerssang aand gehou. Daar was baie kinders wat dit bygewoon het, maar nie baie volwassenes nie.

Bernice het grootliks by Susan ingeval en hulle is baie bedrywig met die kinders, maar daarvan sal Susan se nuusbrief meer vertel.

Ons almal sê vir U dankie vir gereelde gebede, oproepe, SMS’e en baie ander maniere van ondersteuning, ook vir genoegsame finansiële steun. Met die dat ons nou dubbel soveel mense in die gesin is was ons maar bekommerd oor finansies, maar deur U het ons Vader genoegsaam voorsien. Daarvoor dank ons Hom, maar ook vir elkeen wat aan Hom gehoorsaam was. Ons waardeer dit regtig.

En nou die bank besonderhede vir die voeding projek. ABSA Kode 632005 Rekening: 9238555464. Rekng. Naam: Cornelius Bediening.

 

Baie groete

Neels, Wena, Susan, Frans, Bernice en Simoné.