Hi julle

So baie dankie vir alle boodskappe. Ek is tans besig om die plaaslike kennis van bome by ons te leer, skryf alles neer. Verder het ek al laas jaar ontdek dat die afrika aartapel wild by ons groei, dink daaraan om dit aan te plant vir gebruik.

Vertrou dit gaan baie goed met julle en dat almal gesond is. Bid vir julle, dat Jesus julle bediening gelooflik sal seën. Geniet julle webblad.

Ek gaan hierdie jaar ‘n tree trail maak op ons basis, het al klaar die bome gemerk, sukkel egter nog net met sommige spesies omdat hulle tot op hede nog nie vrugte of blomme gemaak het nie. Ek het genadiglik ‘n kontak by die Botaniese tuine van Namibië wat kan help met benaming van die boome, maar ek moet alle inligting van die boom hê om dit te vergemaklik.

Verder bly dit ‘n reuse stryd om mense te stop om bome af te kap op ons perseel. Verlede week het ‘n oom ‘n hele stuk van ons veld skoongekap, dis vreeslik om te dink dis alweer 4 jaar se groei wat verlore is in ‘n uur. Weet nie wat om te doen dat die mense stop nie. Ek het al 22 spesies op ons perseel gemerk, net te dink dit het natuurlik terug gekom. Verder begin plant ek ook saailinge van bome wat elders in die land voorkom, miskien word dit nog ‘n botaniese tuin van Angola, nie onmoontlik.

Ek beplan ook om sodra ons terug kom in Mei van Luanda kinders van die JEGA skool op ‘n uitstappie te bring na ons perseel en hulle te leer oor die plaaslike gebruike en name van bome aangesien die kultuur in die stede besig is om uit te sterf en dit gebruik om verhouding te bou met die kinders en te deel oor God se skepping.

Ek het in Januarie positief gevoel om te begin soek vir ‘n uitgewer omdat ek nooit self sal kan bekostig om my boek oor die Richtersveld te druk nie. UMDAUS Press en Briza het belangsteling getoon. Ek voel positief oor Briza. Ek het ‘n manuskrip en die foto’s van die boek klaar vir hulle gestuur nadat hulle aangevra het daarvoor. Bid saam met my dat hulle eerlik en oop sal wees met my en ook dat hulle spoedig sal terugkom, is nou al vir twee weke stil, so ek weet nie of hulle al die manuskrip ontvang het nie, daar was ‘n vertraging met die pos as gevolg van die stakings.

Verder ervaar ek sterk in my hart om klaar te maak met die Tiago se skool, bid saam hiervoor. Ek het gisteraand met oom Wessel gepraat oor my hart om tussen ‘n groep onbereikte mense te gaan woon. Op die stadium as ek voort met dit wil gaan, moet ek eers vir twee maande opleiding in Zambia gaan of vir ses maande op die African trackt waar daar in verskeie lande saam met sendelinge gewerk word, OM se vereistes. Weet nog nie watter een nie, vertrou Jesus om my te wys.

As ek dan klaar die opleiding gedoen het gaan ek kyk of die Here ‘n deur oopmaak in Angola om by die Boesmans te bly, dit sal ‘n reuse en moelike aanpassing wees, maar dit is wat ek graag wil doen. Indien die Here nie ‘n deur oopmaak om dit te doen in Angola gaan ek Namibië toe gaan, ek het klaar ‘n geleentheid om by ‘n sendingbasis daar aan te sluit wat woon tussen ‘n klein gemeenskapie langs die Okovango rivier, hulle is nog in ‘n erge pioniers stadium.

Vertrou saam met my vir leiding van die Heilige Gees hiervoor. Dit gaan ook beteken dat ek my hele finansies self moet dra en dokumentasie. Ons is tans besig hierdie week met die proses om my werkspermit aansoek in te handig wat dan geldig is vir ‘n jaar, bid groot asseblief dat Vader ‘n wonderwerk sal doen rondom dit.

Ons ry die einde van die week Luanda toe. Tanie Joan moet daar wees vir opleiding en Tiago gaan sokker speel. Ek maak die week klaar met Feliciana, dis die meisie wat verlam is, ons doen alles saam met die mond. Ek vertrou ook vir Jesus om te wys hoe verder en watter kuns en Engelse lesse ek met haar moet doen. Bid vir haar, haar pa het teruggekom van die Kongo en ons het vinnig agtergekom hy drink erg en is moontlik aggresief met die kinders.

Baie seën en liefde vir julle.

Pieter