Archive for June, 2013

Blye versekering .. ek weet Jesus LEEF

Jy hoef maar net Neels se Nuusbrief vir Mei te lees om te weet waar die opskrif vandaan kom:
2 Junie 2013

Liewe Vriende
’n Mens hoor deesdae so baie van verhoudings bou met mense sodat hulle die evangelie kan ontvang. Daar is seker waarheid in. Persoonlik voel ek dit is belangriker dat mense ’n verhouding het met ons Here Jesus Christus en met God ons Vader, deur die Heilige Gees. Dit voel my as ek my verhouding met mense vooropstel dan leer ek die mense om na my te kyk en ek is werklik niks om te sien nie. Ek wil liewer dat hulle na Jesus kyk, daarom sal ons ten spyte daarvan dat ons gekritiseer word uit seker kringe voortgaan om Jesus en Sy liefde te verkondig.

Mei maand was wonderlik, ons was besig. Susan is op die oomblik besig om eksamen te skryf en Frans en Bernice het vir die tyd al haar take oorgeneem sodat sy volle aandag kan gee.

Twee groot dinge het gebeur. Ek het die M.I.V. en Vigs kursus aangebied by Karsten Boerdery vir 55 van hulle leiers wat dan teruggaan na hulle plase waar hulle ander sal help en die Boodskap sal verkondig. Daar was egter so klein probleempie. Baie van die mense is Tswana sprekend en ons handboeke is net in Afrikaans en Engels.

Drie mense van Karsten boerdery het toe ingespring en begin vertaal aan die handleiding. Moeilikheid was net dat ek dit toe moes oortik, eerstens as handboek maar ook in die PowerPoint aanbieding. My tik spoed is nie te stadig nie, maar om in ’n taal te tik wat ’n mens nie magtig is nie, kan nogal moeilik en tydrowend wees. Maar uiteindelik was dit betyds klaar. Foute en weglatings uitgesluit!

Die aanbieding het drie dae beloop en Ds. Johannes Moroeroe het getolk terwyl ek aangebied het. Ons begin die kursus met die basiese feite van M.I.V. en Vigs, maar dan beweeg ons oor na: “Wat is God se oplossing.” Die tweede dag word die evangelie van Jesus Christus verkondig. Die mense ken die Bybel redelik, hulle ken ook kerk, maar hulle probeer nog so hard, net soos die Jode van destyds om goed genoeg te lewe om aanvaarbaar te wees. Baie van hulle soek nog hulle verlossing in die Godsdiens.

Wat ’n wonder was dit toe hulle besef dat die verlossing gratis vir hulle aangebied word, hulle moes dit net vat. Almal wat dit nog nie voorheen gedoen het nie, het Jesus aanvaar as hulle Verlosser en Saligmaker. Hulle is nou ook gereed om hierdie Blye Boodskap uit te dra na hulle medewerkers. ’n Mens wonder soms hoevêr die saad versprei, maar dit is nie in ons hande nie, ons saai maar net die land wat voor ons oop lê.

Op die derde dag kom ons dan ook by vergiffenis uit, om almal te vergewe soos wat God ons vergewe het. Hier het iets snaaks gebeur. Dit het baie stil geraak in die lokaal. Dit was so duidelik dat die Heilige Gees op daardie oggend baie spesiaal in almal se harte gewerk het. Dit het aangehou totdat ons afskeid geneem het van mekaar en ek glo vas dat wat daar gebeur het ’n baie groot invloed sal hê nie net op Karsten boerdery se plase nie, maar ook baie wyer.
Ons dank aan ons Hemelse Vader vir die voorreg om ’n instrument in Sy hande te kon wees. Sonder Hom is ons niks!
Die tweede iets wat gebeur het, was dat ons ’n uitreik-span van Randfontein by ons gehad het vir so bietjie meer as twee weke. Dit was twee Jongmans, twee Jongedames en dan hulle mentors Manie en Leona Reiners. Die seuns het in ons karavaan geslaap, die res van die span het by vriende geslaap, maar dit was nogal ’n bedrywigheid in en om die huis. Nadat hulle weg is, het die erf so leeg gevoel. Vir ’n paar oggende het ek nog met opstaan na die karavaan gekyk om te sien of die seuns al wakker is en dan onthou dat hulle weg is. ’n Mens kan binne ’n paar dae so lief raak vir hulle. As ons na hierdie jongmense kyk dan weet ons daar is nog ’n toekoms vir ons land, in Jesus Christus ons Here.
Wena het geblom met die span hier. Ek het kamtig ’n spyskaart opgestel vir die hele tyd met die doel om koste te bespaar, maar as ek sien dan bak sy eiers of maak iets lekkers want die kinders kan nie net toebroodjies eet nie.
Die span het meestal saam met ons kinders gewerk. Ook saam met Wena tronk toe waar daar ook ’n wonderlike iets plaasgevind het waarvan ons ongelukkig nie kan skryf nie omdat dit redelik vertroulik is.

Die laaste naweek was ons Riemvasmaak toe met die span. Vrydagaand weer die Jesus film vertoon en saam met mense gebid. Hier het dit ook gebeur dat daar ’n persoon was wat ontwrigting wou veroorsaak en dit nogal reggekry het ook. Dit is ’n interessante iets dat die ou vyand altyd iemand stuur om dit te doen en gewoonlik is die persoon onder die invloed van drank. Meer interessant is dat toe ons die ‘probleem’ in Jesus Naam aanspreek en aan Hom erkenning gee as ons Here, die vyand sommer dadelik vlug.

Die mens het nie gevlug nie, net die gees wat ontwrigting gebring het. Die persoon het later op die vloer kom sit, naby my en langs Bernice. Terwyl die film aan die gang was, het sy soort van vooruit die woorde gesê. Ons wat die film nou al so baie vertoon het ken omtrent al die Lukas evangelie uit die kop uit, maar dat die persoon dit ook so kon sê het ons regtig verbaas.

Ag, vriende bid asseblief vir Riemvasmaak se mense. Daar is so baie seer in die mense se harte, hulle maak so moeilik oop. Van die mense wat die aand daar was, het vir die eerste keer oopgemaak al ken ons hulle al jare lank.
Die afgelope week was ek vir ’n vinnige besoek Kalahari toe. Die doel was om die skole te besoek wat met ons program besig is, die Gr. 6 en 7 leerders, soos julle weet uit vorige nuusbriewe, maar ek het darem ook kans gehad om ’n paar huisbesoeke te doen.

Woensdagaand kon ek by Nico en Jana oorslaap op Loubos. Hulle en nog ander vriende daar uit Gauteng/Limpopo se wêreld gaan al jare vir lang tye daarheen waar hulle op gereelde basis met die mense van Loubos, Rietfontein, Mier en Philandersbron bymekaarkom vir Bybelstudie. Hulle bedien ook die kinders. Sal U asseblief vir hulle ook bid. Hulle het my so versterk, sonder dat hulle dit dalk weet, want eintlik het ek Kalahari toe gevlug omdat ek emosioneel en geestelik uitgeput was.

As mens lees van Elia en die Baal priesters, die deel waar hy hulle uitgedaag het met die offers en waar God die wonder vir Elia gedoen het om met vuur uit die hemel die offer te verteer en waar hy die Baal priesters laat doodmaak het, om net die volgende dag woestyn toe te vlug toe Isebel hom dreig met die dood, dan sê ek baie keer: “Ag, Elia, jy het dan net die vorige dag God se mag gesien, waarom vlug jy nou?” Tog ondervind ’n mens dit dat as jy intens bedien het, soos met die kursus waarvan ek hierbo vertel het, waar ons ook die wonder van die teenwoordigheid van die Heilige Gees beleef het en direk daarna Riemvasmaak, dat jy uitgeput en moeg voel.

Dan moet ’n mens eers weer alleen kom om krag te kry, om met ons Vader tyd te spandeer. Waar is ’n beter plek as die woestyn. Al was dit net twee dae en al was mens besig met besoeke, die ure op die lang pad en die afgeknypte tydjie om in ’n pan stil te hou, of tussen die duine, daar waar net jy en Vader is, geen ander geluid nie, gee weer krag om voort te gaan. Ook om saam met medegelowiges te verkeer is ’n wonder wat ons uit ons Vaderhand ontvang.

Ek rig weer die uitnodiging: As jy moeg en gedaan voel, geestelik, emosioneel of liggaamlik, kontak ons ons sal julle Kalahari toe vat of na een of ander stil plek. Dit is deel van ons bediening en mense wat dit wel gedoen het, sal kan getuig dat dit regtig lewensveranderend is. Daar is ook nie danige koste nie, behalwe miskien reiskoste en minimale verblyfkoste. Ons self vra nie ’n fooi nie, dit bly vir ons ’n plesier om in diens van ons Hemelvader te wees.

Wena is steeds besig in die gevangenis met die vroue en kan ook getuig van die wonders wat daar gebeur. Spesifiek een vrou wat al jare daar is en nog altyd baie hard was, het met die huidige kursus skielik oopgemaak en vlam gevat. Sy is nou ’n voorloper om ander te help. Sy sê vir Wena dat sy kan ander help want sy was self daar. Weereens kan ’n mens ook die verandering in haar oë en gesig sien. Sy lewe skielik. Sommer net ter inligting, ek het haar so tien jaar gelede beraad maar het moed opgegee. Sy was al op parool vrygelaat maar is teruggebring omdat sy haar paroolvoorwaardes verbreek het en nou het die wonder gebeur! Ons Hemel Vader gee gelukkig nooit moed op nie.
Ons het weer hierdie maand 54 kospakkies uitgegee. Sommige mense wat voorheen gekry het maar wat ons geoordeel het nie meer regtig dit nodig het nie was baie kwaad. Ander mense kom vra ook pakkies en as ons vra maar hoekom moet hulle kry dan sê hulle omdat die ander kry. Bid asseblief vir ons dat ons vir die regte mense sal gee en die ander steeds met liefde sal behandel. Bernice het ’n mooi benadering, sy sê vir die mense die kos kom van die Here af, so as jy nie gekry het nie moet jy vir Hom vra.

Dankie, dat ek weer hierdie briefie vir U kon skryf, ek weet dat baie van U baie besig is en nie altyd tyd het om al die e-posse te lees nie. Moet tog net nie te besig wees om vir ons te bid nie asseblief. Dankie, ook vir alle ander vorms van ondersteuning wat U aan ons gee. So staan ons almal saam in diens van ons Hemelvader. Ek wens ek kon vir elkeen van U persoonlik sê hoe lief ons U het.
Bo-alles, dankie aan ons Vader wat ons geroep het om juis op hierdie manier vir Hom te werk. Dit is ’n wonderlike voorreg.

Liefde groete

Die de Waals van Cornelius Bediening.