Archive for September, 2013

Cornelius Bediening: Upington

Brief 1:
Liewe Vriende

Ons sit met n probleem waarvoor ons voorbidding vra.

Die huis waarin ons bly is verkoop en ons moet einde September uit die huis wees. Met die dat hier oral in die omgewing Sonkragstasies gebou word het huurhuise onbekombaar en onbetaalbaar duur geword. Ons weet egter dat ons Hemel Vader sal voorsien, maar ek moet erken dat ons op die oomblik in n ‘flat spin’ is. Menslik is daar geen oplossing nie.

Ons weet ook nie of Vader wil hê dat ons op n ander plek as Upington moet gaan werk nie, en as ons moet: Waarheen? Ons kry nie duidelike antwoorde nie, miskien omdat ons nie luister nie, of nie in die gemoed is om te hoor nie.

Ons versoek: Sal julle asseblief saam met ons bid, ons wil net weet waarheen. En as Vader met julle praat sal julle dit vir ons deurgee asseblief.

Al wat ons hoor is dat ons moet rustig wees, Hy sal sorg. Dit glo ons met ons hele hart. Maar dit is moeilik om rustig te wees. Ons kyk maar na die golwe om ons.

Dankie dat ons kon vra.

die de Waals

Brief 2:
30 Augustus 2013
Liewe Vriende
Ja, die huis waarin ons bly is nou verkoop en ons moet einde September uit wees. Hoewel ons weet Vader sal voorsien bly dit die een ding in ons gedagtes. Dan lees ek gister van Abram, voor hy nog Abraham geword het, wat ook moes trek sonder dat hy geweet het waarheen. Dit het hy in geloof gedoen volgens Hebreërs 11. Hy het weggetrek sonder dat hy geweet het waar hy sou uitkom. Ek wens ek het Abram se geloof gehad! Ons is bereid om weg te trek maar ek wil graag weet waarheen. Ons dink aan baie moontlikhede. Ons kan ’n huis kry naby Groblershoop, maar ons weet nie of dit is waarheen ons moet gaan nie. Is dit waar God ons wil hê?
Verder is hier ’n huis beskikbaar by ’n kerk, die pastorie wat nie gebruik word nie. Ongelukkig het die kerkraad alreeds besluit hulle gaan nie die huis verhuur nie. Die besluit kan natuurlik omgekeer word, maar die aanbeveling en besluit moet mos eers deur die regte kanale gaan. Ons glo ook dat as Vader wil hê dat ons daar moet gaan woon sal hy dit alles betyds laat gebeur.
En tog WEET ons uit vorige ondervinding dat al die gewroeg so onnodig is.
In die tussentyd is ons darem besig. Die kinders vertel in hulle eie nuusbriewe van alles. Ons was ook nog by die skole besig om te besoek en moed in te praat. Het ook ’n skool opening waargeneem, is in en uit die tronk en al daardie lekker dinge.
Ek, Neels, het nou ook weer ’n konsultasiewerk gekry, net vir 15 dae, maar dit kom net op die regte tyd. Ons sal maar koste hê met die trekkery en ons bakkie se ratkas moes ook vervang word, kon gelukkig ’n goeie tweedehandse ratkas in die hande kry. Vader voorsien altyd op die regte tyd.
So saam met die trekkery beplan ons ook om al die boekies by die skole ter kry, ± 12 000 van hulle, wat nagesien moet word, bid asseblief ook vir ons en spesifiek vir Wena wie die groot verantwoordelikheid daarvoor dra.
Ons het nou nie lang stories die maand nie. Ek skryf ook maar vinnig want ek weet julle is almal baie besig en sal vinnig lees.
Mag ons darem net weer dankie sê vir al julle liefde en omgee, vir elke gebed, SMS, e-pos en finansiële bystand. Ons waardeer julle waarlik en so in ons swakheid probeer ons steeds om die werk te doen wat ons Hemelvader aan ons opgedra het met elkeen van julle as vennoot.
Liefde groete
Die de Waals van Cornelius Bediening.

Brief 3:
Liewe Vriende
Ek wil maar net laat weet dat ons Hemelvader in my afwesigheid, ek werk weer tussen die NGO’s hierdie maand, vir ons ’n huurhuis voorsien het. Ons dank Hom met ons hele hart, maar ook vir elkeen van julle wat saam met ons gebid het en wat ons moed ingepraat het. Wena het gaan kyk en die huis beskryf en dit sal goed by ons behoeftes pas.
Die huurgeld is ’n bietjie hoog, dink ons nou maar, maar ons weet HY sal die ook voorsien.
Ekself sal eers volgende week huis toe gaan, so teen Woensdag en dan Donderdag dadelik weer Kalahari toe vertrek om die boekies by die skole aldaar te versamel, Frans sal seker saam met my gaan. Die volgende week sal ons hoofsaaklik pak en dan teen die 20ste op uitreik vertrek. Frans en Bernice gaan Pella toe en ek en Wena saam met die Vrystaters na Onseepkans. Die beplanning is dat ons dan teen die laaste naweek van die maand sal tuiskom en oortrek na die ander huis.
Intussen moet Wena en die res van ons span nog die boekies by die Upington skole versamel. Susan en Bernice is hard besig om voor te berei vir hulle eksamens aan die einde van die jaar. So dit gaan maar bietjie deurmekaar by die Corneliusse. Hou ons dus asseblief in u gebede.
Liefdegroete
Almal by Cornelius Bediening