Vanweë die nood in Goodhouse, beplan die uitreikgroep om DV Sondagaand 24 Maart 2013, die Jesus-film daar te vertoon. Bid asseblief saam met ons dat hulle by die regte mense sal uitkom vir vir ontvanklike harte.

Munisipaliteit sny boere se lewensaar af

Rapport RK Nuus 2007 Goodhouse

peet van aardt Goodhouse

Vier jaar nadat die regering se peperduur paprika-boerdery-projek in Goodhouse platgeval het, kon ’n handjievol boere darem ’n sukses van dié skande maak. Maar nou word hul planne ook doodgewurg deur die munisipaliteit, wat beveel het dat hul water afgesny word.

Die Noord-Kaapse regering het die Goodhouse-projek in 2003 begin. Altesame 55 bruin boere is elkeen 10 ha grond gegee om paprika te verbou. ’n Besproeiingstelsel van R80 miljoen is geïnstalleer en ’n paprikafabriek van R55 miljoen is gebou. Maar agt maande later het die hele projek platgeval en die plaasgemeenskap was geruïneer.

Kenners meen die owerheid het nie in ag geneem dat paprika, wat ’n temperatuur van onder 32°C vereis, nie in dié gebied (waar die temperatuur tot bo 50°C styg) sal aard nie. Goodhouse het verval in ’n vergete plato van stof en gebreekte trekkers. Plakkers het ingetrek.

’n Paar boere het vasgebyt en die pompstasies benut wat opgerig is. Hul plase het gefloreer.

Maar nou, vier jaar later, vrees hulle vir hul voortbestaan. Die Nama Khoi-munisipaliteit het Eskom die afgelope week opdrag gegee om die kragtoevoer na die waterpompe af te sny. Volgens dié opdrag, wat in Rapport se besit is, word die elektrisiteit nie gebruik nie. Daarby meen die munisipaliteit die gebruik van die waterpompe is ’n verkwisting van geld.

Mnr. Victor Hayes (57) is ’n sakeman van Springbok wat ingespring het om die boere langs die Garieprivier te help. “Die boere werk hard en doen wat hulle veronderstel is om te doen. Maar nou gaan hul water afgesny word. Hoe gaan hulle oorleef?” vra hy. Hayes het 10 ha skoongemaak van doringbome sodat die grond beplant kan word en ook op eie koste draad gespan om van die boere se grond. “Dit is nie reg nie. Hoe moet ons nou maak?” vra mnr. Fanie Schoeman (63), een van die boere.

Hy boer al 23 jaar op die grond en was destyds verheug oor die Goodhouse-projek.

“Maar selfs nadat dit misluk het, het ons moed gehou en aangegaan. Sny hulle nou ons water af, sny hul ons kele ook af,” sê hy. Hy boer met mango’s en lusern. Sy vrou, Reneé, bestuur ’n winkeltjie op hul plaas.

Nóg ’n veteraanboer, mnr. Abraham van Wyk (70), is moedeloos. “Het ek nou al daai jare gemors? As die owerhede ons water afsny, maak hulle ons dood.” Die boere krap kop oor al die miljoene rande wat in die projek gestort is.

“Ons sien niks van die geld nie,” sê mnr. Piet Cloete (54). “Die doel van die projek was juis om ons boere te help. Hoe kan die munisipaliteit toelaat dat alles net doodloop?

“Die regering praat van 13 jaar se demokrasie. Maar hiervan het ons nog niks geproe nie. Ons as boere wil vir onsself kan sorg, maar hulle sny ons hande af,” sê hy. )?Die Nama Khoi-munisipaliteit wou nie kommentaar lewer oor die saak nie.

peet.vanaardt@rapport.co.za

Onderskrif: Vier jaar nadat die peperduur Goodhouse-projek doodgeloop het, het ’n handjievol boere ’n sukses van dié mislukking gemaak. Maar nou wil die munisipaliteit hul water afsny. Van links is mnre. Samuel Cloete, Fanie Schoeman en Victor Hayes. Foto: steve eggington