Augragies na Alexanderbaai

Uitreikterugvoer: Augrabies na Alexanderbaai 26 Maart 2013

Die uitreikgroep dra hulle groete oor aan die gebedsondersteuners. Hulle het Augrabies geniet en Mac se spesiale oomblik was om Jean en Leorna daar te ontmoet en tyd saam met hulle te spandeer.

By die Groot Melkboom op die Namakwa 4×4-roete het hulle tyd gehad om die wonder van die natuur te beleef en in die Oranjerivier te was! By Vioolsdrift se kampterrein het die bestuurder ‘n ruim afslag vir die kampgroep bewillig waaroor hulle baie dankbaar was. Hulle werk lekker saam as ‘n span en almal is in goeie gees.

Vandag is die groep DV oppad na Alexanderbaai en hulle wil nou reeds baie dankie sê aan Carel en Estelle Wiggett van die Koinonia Volle Evangeliekerk wat daar hulle huis vir die volgende paar dae vir die uitreikgroep beskikbaar stel. “Die Ark” is ‘n projek op Alexanderbaai wat onder die jeug werk en wonderlike werk doen. Mac se droom is dat elke gemeenskap in die omgewing op ‘n soortgelyke manier die jeug sal betrek om hulle met die Woord te bedien en te help om hulle in die middae sinvol besig te hou.

Die groep vra asseblief voorbidding vir die daaglikse uitreike na omliggende gemeenskappe en die Jesus-filmvertonings wat hulle vir die volgende week beplan. Dankie dat jy deur jou gebede deel is van die groter Plan om die Woord te verkondig tot aan die uithoeke van die wêreld.