Die uitreikgroep het gister in Alexanderbaai aangekom en gisteraand die Jesus-film by Die Ark vir die plaaslike gemeenskap vertoon. Dit was ook die eerste keer dat die uitreikgroep se eie seuns en dogters die voorreg gehad het om self hierdie film te sien… Gister het twee van die mans saam met ‘n plaaslike lidmaat deurgery na Sanddrif om met die gemeenskapsleiers te gaan praat en toestemming te kry om vandag daar ‘n gemeenskapsprojek aan te bied en die plaaslike saal vir ‘n Jesus-filmvertoning vanaand te bespreek. Een van die skoolbeheerraadslede het toe uit sy eie vandag kennisgewingborde by die plaaslike winkels laat aanbring wat die nuus van die gratis filmvertoning bekendgemaak het.

Vandag kon die uitreikgroep vehoudingsbou met die kinders deur saam te speel en by twee geleenthede in kringetjies te sit en eers oor die belangrikheid van die Kruisiging en daarna oor die voorreg van Gebed te praat.

Tussendeur het die uitreikdogters die grimering wat geskenk is gebruik om “die mense mooi te maak” en kort voor lank het klein en groot in die tou kom staan vir hierdie lekkerte. Mac sê: “Die ‘make-up’ was ‘n wenner.” Nogmaals dankie aan elkeen wat ‘n bydrae hiertoe gemaak het.

Laatmiddag kon die uitreikgroep ‘n bietjie ontspan voor vanaand se Jesus-film in Sanddrif, toe ‘n dame wat ‘n voedingskema op die dorpie Baken bedryf, vir hulle toestemming gegee om haar erf te gebruik. Die plan is om DV gedurende die naweek Khubus/Kuboes en moontlik ook Eksteenfontein te besoek en daar verhoudings te bou. Dankie dat ons weet jy bid saam vir elke geleentheid om oor die Paasnaweek die wonderlike Boodskap met mense te deel wat werklik ‘n behoefte het aan ‘n God en ‘n Redder.

P1070034 Die Ark

IMG_6806 Jesus-film Die Ark

Mense verstaan nie altyd waarom ons by uitreikwerk betrokke is nie. In 2009 skryf Mac:

“SIELSOEKEND: Uitreik: 29 Augustus – 12 September 2009: Pella, Goodhouse, Henkries, Concordia, Onseepkans, Blouputs, Richtersveld, Eksteenfontein, Ghamoep, Leliefontein … waar HY ons ookal lei.

Hoe lyk dit – wil jy saamkom op so ‘n uitreik? ‘n Uitreik na die San en KhoiSan van die Noord-Kaap, Boesmanland, Richtersveldt, Namakwaland? Waaroor gaan hierdie uitreik?

Mens kan dit ook ‘n “Verkenning” noem – Grootste deel van die roete wat ons gaan dek het ‘n “toerisme-roete” geword waar groot blink 4×4’s (en minder blink 4×4’s) verbyskiet. Almal vasgevang in die ‘natuur’ en die mense daar nie eens raaksien nie. Baie gevalle nie eens bewus is van hulle bestaan nie. Net oor die bult, om die rant, agter die berg.

Ons gaan met die MENSE kennis maak, tyd saam met hulle deurbring, verneem wat hulle behoeftes is, hulle nood en ook die Evangelie, die Goeie Boodskap met hulle deel deur middle van die Jesus-Film. Met die data en inligting wat ons so aanteken gaan ons terugkom na ons Gemeentes en Gemeenskappe om daardeur, dis ons gebed, toekomstige uitreike aan te vuur. Uitreike wat daardie behoeftes gaan aanspreek.”

Op 4 September 2009 is “Die Ark” as ‘n gemeenskapsentrum geopen as ‘n heenkome vir skoolkinders wat gewoonlik ná skoolure alleen huistoe moes gaan óf op straat rondgeloop het.

Carel Wiggett, Pastoor van die Koinonia Volle Evangelie Kerk het dit in 2009 só aan ons verduidelik:
“Die Here is besig om ons baie te seën in Alexanderbaai. Ekl het lank terug die opdrag gekry om met die jeug te werk, maar niks het gewerk nie. Ek het alles probeer, maar dit wou nie werk nie. Toe op ‘n dag kom daar ses jongmense na my huis en vra dat ek vir hulle moet bid.

Net daarna ry ek by die kroeg verby en die Here sê: “Daar’s jou plek”. Ek gaan toe in en vra die man daar ek wil die kroeg hê. Die man sê toe, “write me the concept”. Dit het die groep 87 dae geneem om die gemeenskapsentrum van die grond af op te bou.”

Die behoefte vir Die Ark het ontstaan omdat Alexanderbaai eintlik ‘n verlate plek is waar kinders regtig iets nodig het wat dit vir hulle lekker gaan maak. Dit is ‘n plek waar jy vir hulle kan wys jy bly nog altyd mens as jy ‘n Christen is. Om vir hulle te wys dat dit lekkerder is om ‘n Christen te wees as van die wêreld. Ons moes met ‘n ompad met hulle werk.

Carel sê: “Die gemeenskap sien Die Ark wat hulle hier oopgemaak het nie as ‘n klein ding nie, maar as ‘n groot ding in die geestelike wêreld, want hulle het grondgebied teruggekry vir God.”

Sanddrif

Richtersveldbekoring 1876

Hoekom Sanddrift?

In 2009 het ons Ds Burger, destydse leraar van die NG Gemeente Alexanderbaai, gevra wat sy siening oor uitreik in hierdie omgewing is. Volgens hom is sy idee van uitreik dat mens gaan waar dit die minste beskikbaar is. Die braakland is Sanddrift. Baie gemeenskaplike probleme daar. Drank- en dwelmmisbruik. Die leraar se sentrum is op Khubus/Kuboes en hy kom wel by Sanddrift, maar nie so gereeld nie. Sanddrift staan soos ‘n seer vinger uit. Nood op ‘n baie wye sosiaal-maatskaplike vlak.

Die groter leierskap van daardie gemeenskap sit op Khubus/Kuboes. Sal aanbeveel mens praat eers met die plaaslike leierskap. Probleme met gemeenskapsprojekte is eienaarskap.

As die projek werk is dit almal sin en as dit nie werk nie is dit niemand sin nie. Hy weet nie van enige ander betrokkenheid van buite gemeentes by Sanddrift nie.

Mac sê sy “wow” vir die dag was dat hy die fiets wat hy twee jaar gelede vir Ann-Lee op Sanddrif belowe het, vandag kon oorhandig. Ann-Lee word deur haar Oupa grootgemaak, want sy het beide haar ouers tragies verloor. Haar droom is om eendag ‘n Dokter te word…. Dankie aan elkeen wat gehelp het om die fiets te bekom en dit weer mooi en heel te maak.

Op Pella het die groep by Linda van Wyk van die Toerisme-kantoor aangedoen. In 2010 het ons skenkings vir haar ontvang in die vorm van ‘n nuwe ‘n klawerbord en kitare, want haar hart was met ons verkenning in 2009 so verwoord: “My passie is om te sing en ek wil graag so die Here loof. Ek wil graag met ‘n Sangbediening begin, maar ek het net nie instrumente nie.” Weer eens dankie vir hierdie se skenkings.

Die groep het glo ook ‘n klein stukkie avontuur by die Groot Melkboom gehad toe altwee die sleepwaens in die sagte sand op die Namakwa 4×4-roete vasgesit het.

Voorwaar ‘n groot voorreg om daar op een van die mooiste kampplekke op hierdie aarde langs die magtige Oranjerivier tyd saam met jou Here te spandeer.

P1060506 Linda van Wyk Pella 2010

P1060748 Groot Melkboom