Die jongmense het tuis al beplan om die “mense mooi te maak” en nou kan jy self sien hoe hulle die dag op Sanddrift geniet het. Groot en klein, seun en dogter het kom toustaan vir hierdie lekkerte! (Dankie vir elkeen se donasie wat hierdie bederf moontlik gemaak het).

3 Ann-Lee sonder bril - Copy

10 Jade se kliente - Copy

2 Almal vir make-up_dogters en seuns - Copy

9 Reeltyd vir speeltyd - Copy

6 Speelveld op Sanddrift - Copy

Mac kon ook Ann-Lee se fiets vir haar gee wat hy haar meer as twee jaar gelede belowe het. Ann-Lee het destyds vir Mac gesê sy wil ‘n dokter word, vir hom ‘n klippie gegee en gesê hy moet onthou om vir haar te bid. Dankie vir die manne wat die fiets geskenk en reggemaak het. Sonder julle sou ons dit nie kon doen nie.

8 Ann-Lee op haar fiets - Copy

7 Ann-Lee kry haar fiets - Copy

Saam met Oom Tommie en die manne van die Koinonio VEK se MaksiMan-beweging het die groep ‘n paar veesposte gaan besoek. Mac skryf daaroor as volg:

Uitreikterugvoer: Richtersveldt – Veewagters besoek

So teen 9-uur vanoggend was Oom Tommy, Derrick en Kapela hier — vandag is ons “veld” toe om die veewagters te besoek.

Bietjie anti-klimaks vir my, ons bly op die Sanddrift grootpad, al teen die rivier af. Daar is GEEN weiding op die vlakte nie – al die veetroppe stanings is hier teen die rivier langs af.

Ons het gehoop om so 6 veewagters te bereik vir die dag. Elkeen het ‘n ‘boksie’ gekry met die volgende in:
2.5Kg suiker
Tee [100 sakkies]
Koffie [500 g]
Broodmeel 2,5 Kg
Mieliemeel 2 Kg
Kondensmelk
Rys 500G
Brood
Lux sepie
Sout 250G
vuurhoutjies [pak]
Waspoeier [2-in-1 OMO]
Sunlight seep
Stroop
peanut botter
Konfyt [blik 500g]
wit peper
Pak kerse

Klink maar karig – maar vir mense wat in sink en sak kaias bly is dit baie.

[nota vir self: blik gemengde vrugte en boksie vla en blikkie Ideal melk kan maar bykom, wat]

Eerste stop is by Ou Tannie Louw op Swartwater. Al diep in die 70, haar kleinkind is tydelik daar om te help maar andersins boer sy stoksielalleen sedert haar man se dood paar jaar gelede met haar troppie bokke. Twee jaar terug het haar huis afgebrand terwyl sy in die weiding was met die trop bok.

Boonop sit nou met in die twintig lammers en daar is geen kos nie. ‘n Vriend help om met haar bakkie te ry en soetdoring takke te kap vir voer vir die lammers. Sy kan nie bestuur nie.

Ons bid, ons ry weg, my kjeel het ‘n dik knop in maar ‘k wys dit nie.

Entjie laer af langs die Baken pad kry ons Ou Meester Cloete. Hy was vroeër Prinsipaal van Sanddrift Laerskool. Sy wagter is Petrus en Petrus kry boks en nuwe Bybel. Dankie NG Garsfontein — die Bybels kom nog van julle af.

Net om die draai sit hier ‘n staning neffens langs die pad. Die kraal is leeg, maar die spopre is vars. Katel mooi netjies opgemaak. Hier wei Kleinman Fredericks met sy veetjies – die spore wys hy’s af rivier toe.

Ons sit sy boks en Bybel in sy kaia neer.

Laaaaamg draai – Tommie vat ons oor die kortpad wat nie geskraap is nie. Ek belowo hom ‘n klap, vir wat loop stane bodder hy met die slegpad terwyl die grootpad vars geskraap is?? en dit vir halwe myl korter?

Hy loop wys ons Wondergat. Teleurstelling – Wondergat is toegekap met tralies — sien amper niks nie.. Maar ons eet daar terwyl ons nou mos stilstaan.

Trug op die pad – stop by Josefsdal, gee vir Antie Josefs haar boks. Ek gesels te lekker met Ann-Lee, want dis haar Ma-se-kantse Ouma en sy kuier bikkki daar. Sy bring my ‘n nuwe klip om nie te versjeet om vir haar te bid nie.
Jantjie Fredericks kom daar verby, en ons gee sommer sy boks vir hom ook.

Ouma besuie sy het gebid vir nuwe Bybel – haar ou Bybel is gedaan gelees. Sy kom wys hom . Sjym – daai Bybel is ouer as Eric. Met groot dank ontvang sy haar nuwe Bybel.

My WOW virri dag — daai blydskap sien mens nie aldag nie.

Laaste stop is by Antie Katrina Matroos – sy kannie lees nie, maar haar seun kan – Dankie vir die Bybel. Dankie vir die boks ‘Hamper”.

Weereens BAIE BAIE dankie vir NG Kemptonpark Oos en die borg vir die kinders om hierdie uitreik mee te maak.

Baie dankie NG Pretoria-Garsfontein vir die Bybels. 120 ontvang, 20 in Botswana gelewer in Desember 2012, 84 hier in Alexanderbaai afgegee, 6 vandag by die veeposte en 9 vat ons saam vir môre, oormôre – 3 per voertuig vir die kinders om self elkeen ‘n Bybel uit te gee.

Laaste ding: Ons het die Richtersveldpark besoek bespreking met ‘n dag te vervroeg, dus gaan ons môre oggend oppak en Park toe vertrek – by Sanddrift aandoen en die balle afgee by Meester Agab om te sien dat dit gebruik word. Soos hy goeddink ??

Môre aand slaap ons DV op Poitjiespram, Woensdag ry ons die park, Woensdagnag slaap ons by Kokerboomkloof en Donderdag vat ons die terugtog aan. Een ekstra dag in die sak – want dit kan so ‘n uur of twee vat van Kokerboomkloof tot in die grootpad …

Ons sê DANKIE – en vra hou asseblief aan bid tot ‘n week NA ons tuisgekom het.

SJALOM / KAGISO / VREDE
dankie

O’Mac

Tipiese veeposte in die Richtersveldpark:

P1070208 Veepos Richtersveldpark

P1070156 Waar die skape wei

P1070163 Veepos Richtersveldpark